Vrou kry uiteindelik haar ID na 67 jaar
Toe dit tyd was om haar ID te kry het Elizabeth Moatshe geen familie meer oorgehad nie en ook geen geboortesertifikaat gehad om te bewys dat sy is wie sy sê sy is nie..
Moet jy dalk hard dink waar jy jou ID gebêre het as jy hom skielik nodig kry? Het jy al gewonder hoe die lewe sou wees sonder ‘n ID? Vir 67 jaar moes Elizabeth Moatshe sonder ‘n ID klaarkom totdat haar raadslid, Whitey Moleba ingegryp het.
Moatshe is in Tarlton gebore. Toe dit tyd was om haar ID te kry het sy geen familie meer oorgehad nie en ook geen geboortesertifikaat gehad om te bewys dat sy is wie sy sê sy is nie. Gevolglik het sy nooit ‘n ID gekry of matriek voltooi nie.
In 2017 toe Moleba as haar wykraadslid aangewys is, het Moatshe vir hom van haar situasie vertel. Moleba het egter toe nie besef hoe moeilik dit sou wees om wel ‘n ID vir haar in die hande te kry nie.
Also read: Identity theft: how to avoid an identity crisis
Omdat Moatshe nie ‘n geboortesertifikaat gehad het nie moes hy eers na die Randfontein-tak van Binnelandse Sake toe gaan om uit te vind waar haar ma begrawe is. Haar ma het ook nie destyds ‘n ID gehad nie en so het Moleba se soektog na Moatshe se familie begin.
Hy het vertel dat hy deur die jare mense moes kry om te gaan getuig dat hulle familie van Moatshe is of saam met haar grootgeword het. Maar na jare se harde werk saam met Binnelandse Sake het Moatshe uiteindelik op Vrydag, 9 September haar geboortesertifikaat gekry.
Vandaar kon hulle aansoek doen vir haar ID.

Moatshe het vertel dat die lewe moeilik was sonder ‘n ID. Sy kon nie altyd werk kry nie, haar eie dogter kon nie onder haar naam geregistreer word nie, sy kon nie aansoek doen vir staatsbehuising of ‘n SASSA-toelae nie en sy kon nie ‘n bankrekening open nie. Die ergste was egter dat sy by staatshospitale weggewys is omdat sy nie ‘n ID gehad het nie.
Moleba het haar op Maandag, 19 September bank toe geneem om ‘n rekening te open nadat sy haar splinternuwe ID-kaart by Binnelandse Sake gaan haal het.
Sy het vertel dat sy opgewonde is oor die toekoms en dat sy graag by die staatshospitaal ‘n bril wil kry, en aansoek doen vir ‘n SASSA-toelae en behuising. Met die News se besoek kon sy nie ophou dankie sê vir die raadslid wat sy belofte aan haar nagekom het nie.
Moleba het dit ook weer benadruk dat mense hul kinders se geboortes moet registreer sodat hulle ‘n geboortesertifikaat kan kry. Dit is jou kinders se eerste wettige bewys van hul identiteit.
Geboortesertifikate is nie net ‘n basiese mensereg nie; die help ook om te verseker dat jou kind se ander regte eerbiedig word,” het hy gesê.
Dit sluit in die reg tot maatskaplike dienste, gesondheid, geregtigheid en die reg op beskerming teen geweld.
