‘Krugersdorp het ongetwyfeld ‘n massiewe dwelmprobleem’
'n Staptog teen dwelms is onlangs deur sowat 50 mense onderneem.
Vir mense wat vasgevang is in verslawing is dit gewoonlik moeilik om daaruit te kom.
Die Glow4Jesus-span glo dit is belangrik dat jy net die eerste stap moet neem.
Hulle het hulself tydens ‘n veldtog op 3 September weer sterk uitgespreek teen dwelms.
Die span het so teen 12:00 vanaf die Glow4Jesus Non Judgemental Church in Burgershoop vertrek en in Jobstraat afgestap na Bustonstraat en toe in Adlerstraat ingedraai. Hulle het uiteindelik voor die parkie in Appelpark bymekaargekom.
Daar het nagenoeg 50 mense by die groep stappers aangesluit en by die parkie het nog gemeenskapslede bygekom.
Heleen-Marie Treptow van die groep het vertel dat inwoners selfs uit hul huise gekom het om te luister na die sprekers van Quegal Restoration and Refuge Centre, Bereshith Centre, Glow4Jesus Non Judgemental Church asook een van die Glo4Jesus-ondersteunersgroeplede, Seth Sookdin.
Treptow het vertel dat die doel van hierdie byeenkoms was om die mense bewus te maak van die gevare en nagevolge van dwelmmisbruik.
“Die gemeenskap, en selfs ouers en familielede van dwelmverslaafdes en dwelmgebruikers besef nie regtig in watter gevaar so ‘n persoon se lewe is nie. Hulle besef ook nie regtig wat daardie mense aan hulself doen nie, benewens die trauma en hartseer wat hulle vir hul familie en die gemeenskap veroorsaak.
Ons moet die gemeenskap bewus maak van wat regtig in so ‘n persoon se lewe gebeur en van die gevolge van die dwelmgebruik.”
Treptow het verduidelik dat daar ongetwyfeld ‘n massiewe dwelmprobleem in Krugersdorp is.
“Die groot probleem begin by verwerping by die huis en om ‘in te wees’ by vriende.”

Die feit dat party ouers self dwelms gebruik, stel die kinders daaraan bloot. Werkloosheid is ook ‘n belangrike oorsaak omdat party mense moed verloor het om aan te hou probeer. Die heel grootste faktor is dat dwelms so vrylik in Krugersdorp beskikbaar is.
Sy beskou liquid G as die grootste probleem maar daar is ook ‘n probleem met heroïen en dagga. Die twee word nou glo gemeng en so gebruik.
Sy het vertel dat die verkeerde vriende ‘n groot probleem is.
Baie van die jongmense ervaar verwerping by die huis, en voel ook dat daar geen liefde, tyd, ondersteuning en aanvaarding is nie.” Die kinders word by die verkeerde vriende se sirkel ingesluit en om daar te bly sê hulle dan ja vir dwelms.
Glow4Jesus is ‘n ondersteuningsgroep wat in Maart vanjaar gestig is nadat hulle die erns van dwelmverslawing en dwelmgebruik in Krugersdorp besef het.
Nadat hulle met 64 lede begin het, het hulle nou meer as 550. Dit sluit aktiewe lede in en dié wat net ondersteuning bied.
Die volgende teendwelmveldtog sal in Witpoortjie gehou word, en ‘n groot byeenkoms word in Ventersdorp beplan.
“Daar lê nog baie byeenkomste voor waarvan ons net die datums moet bevestig. Dit sal op ons Facebook-blad Glow4Jesus Support Group gegee word. Enige een is welkom om daar aan te sluit.”

