Rus sag Nevin Jacobs – Pinehaven vragmotorongeluk slagoffer
'Ek sal my seun se spontaniteit en positiewe energie onthou' – Rita Jacobs.
‘n Spontane en behulpsame man se lewe is kort geknip toe hy in die grusame vragmotorongeluk by die Pinehaven-kruising vroeër in Oktober betrokke was.
Die 37-jarige Nevin Jacobs was die bestuurder van die geel VW Beetle wat deur die vragmotor vernietig was tydens die ongeluk wat Vrydagoggend, 7 Oktober plaasgevind het.
Lees ook: Pinehaven horror crash: Two dead, three injured
Sy ma Rita Jacobs vertel dat haar seun ‘n motorwerktuigkunde was. Hy was op pad werk toe, toe die ongeluk net na 6 die oggend plaasgevind het.
“Nevin was altyd spontaan gewees, hy het altyd ‘n glimlag gehad en was altyd bereid om jou te help, maak nie saak van tyd nie.”
Sy begrafnis het op Donderdag, 13 Oktober by die Ou Apotoliese Kerk van SA in Krugersdorp-Noord plaasgevind.
Hy het ou model karre versamel, gehou van visvang en het ‘n passie vir karre gehad. Hy het ook gedroom om nog eendag ‘n groot swaarvoertuig te bestuur.
“Ek sal my seun se spontaniteit en positiewe energie onthou, hy was gelukkig as hy net na sy musiek kon luister en saam met sy familie kon wees.”
Sy sal altyd die mooi herinneringe en sy sê-goed na aan haar hart hou.
Rita sê sy wil sien dat daar op die R28 voor die afdraande ‘n weegbrug opgesit word, met ‘n permanente verkeersbeampte wat dit moet beman.
“Daar moet ‘n tweede stop en ‘n verkeerslig oorkant Silverstar se ingang wees wat vragmotors dan ‘n ry beurt gee. Daar kan ‘n gebou opgesit word vir die verkeersbeampte wie aan diens is vanaf 05:00 en voor dit mag geen trok daar ry nie. Daar moet ‘n ander pad vir die trokke wees – hulle moet eenvoudig nie daar ry nie.”
Nevin laat sy ouers, broer, verloofde Suzi Pestana en haar twee seuns agter.
Rus sag Nevin.

