EntertainmentHigh SchoolKidsLocal news

Talentvolle Tenique maak skoonskip by kompetisies

Mindalore se Tenique Laubscher presteer die wêreld aan die brand met al haar talente.

Sy is maar net 16 jaar oud en het meer talent in haar een klein toontjie as wat sekere aktrises met opinies oor Afrikaans in hul hele lyf het, en dit het Tenique Laubscher bewys toe sy onlangs vir die sangwêreld-kampioenskappe gekwalifiseer het.

By hul eetkamertafel het Tenique gesit met ‘n pak sertifikate voor haar wat enige dramastudent ongemaklik sal maak. Die sertifikate is net bewyse van al die kompetisies waar sy in 2022 skoonskip gemaak het.

Tenique Laubscher met al haar medaljes.

In Mei het sy aan Conspirito deelgeneem. Die kompetisie het in twee fases plaasgevind. In die aanlynfase het sy vir 12 sangitems bo 90 persent gekry. Sy was ook kategoriewenner vir ses kategorieë. By die regstreekse-kompetisie het sy bo 90 persent vir al nege haar sangitems gekry en was sy die nasionale wenner in vier afdelings.

By die Vivarte-kunstefees het Tenique as die algemene item wenner in ses kategorië weggeloop en is ook aangewys as die algehele graad 10 wenner.

Aan die begin van Augustus neem sy deel aan die Roodepoort Kunstefees (RAK) waar sy vir al vier haar sangitems A++ gekry het. Later dieselfde maand neem sy ook aan RACA deel waar sy vyf diamant- en een platinum-toekenning vir sang verower het. Sy is ook die kategoriewenner in twee afdelings.

Daarna was dit die Bedford Eisteddfod se beurt. Vir fotografie kry sy 92 persent, vir plakboekwerk kry sy 89 persent, vir haar Afrikaanse opstel kry sy 93 persent en vir haar drie sangitems slaan sy tussen 92 en 95 persent los. By die Nova Arte uitvoerende kunstekompetisie voer sy vier sangitems op en word sy aangewys as die afdeling- en graad wenner by die kompetisie. Aan die einde van Augustus neem sy aan Vinatix deel en uit die 10 sangafdelings waaraan sy deelgeneem het is sy as itemwenner van sewe kategorieë aangewys. Sy ontvang ook twee medaljes, een vir item wenner en een vir graad wenner.

Haar vertoning by die Lalt Theatre House in September het vir haar bo 90 persent vir al vier haar sangitems verseker. Sy kry ook 93 persent vir fotografie, 89 persent vir haar plakboekwerk en 92 persent vir haar Afrikaanse-skryfstuk.

In Oktober kompeteer sy toe by die South African Championships of Performing Arts en verteenwoordig Gauteng. By dié kompetisie het sy sewe medaljes gekry – drie goud, een silwer en drie brons. Dit is hier waar sy ook aangewys is as deel van die span wat gekies is om volgende jaar in Los Angeles aan die wêreldkampioenskappe deel te neem.

Tenique vertel dat sy begin sing het toe sy drie jaar oud was. Sy het eers in graad 6 met sanglesse begin en toe later in graad 8 by Andre Martinez, haar vokale afrigter, aangesluit. Die fotografie, plakboekwerk en skryf kom van haar ma, Valma af. Valma het vertel dat sy ‘n kreatiewe mens is wat nog altyd haar kinders probeer betrek het.

Al het Tenique voorheen meer emosionele liedjies gesing het sy vertel dat sy by die jaar se nasionale kompetisie haar niche ontdek en besef het dat sy ‘n liefde het vir rap. Daar was net drie deelnemers in die kategorie en sy het gedink sy staan nie ‘n kans nie, maar toe wen sy die afdeling.

“Met rap voel ek meer asof ek myself kan wees,” het sy vertel.

Behalwe vir al haar ander talente wil sy ook probeer om haar eie liedjies te skryf en ‘n loopbaan te maak in die musiekbedryf. Tenique besef egter dat dit ‘n moeilike bedryf is om by in te kom, so sy wil graag ná skool vir ‘n forensiese rekenmeester kwalifikasie gaan studeer.

Wanneer sy nie sangklas het nie, sing sy steeds in haar aftyd en oor naweke help sy uit met ‘n fotografiebesigheid wat haar familie besig is om op die been te bring. Anders kuier sy net saam met haar vriendinne. Sy droom daarvan om volgende jaar na die wêreldkampioenskappe toe te kan gaan maar dit gaan hulle ongelukkig R72 000 uit die sak jaag, ‘n bedrag wat haar familie nie alleen kan bybring nie.

Tenique sê sy kry haar inspirasie van haar suster en sy glo die Here sal jou nie talente gee sonder om drome te laat waar word nie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button