CrimeLocal news

‘n Ma, noodhulp en nou Sektor 7 GPF patrollie koördineerder

'Wanneer jy opofferinge in jou gemeenskap maak, maak jy 'n standpunt vir die tipe gemeenskap waarin jy wil woon - jy laat jou stem hoor.'

Wie sê dat misdaadbestryding hoofsaaklik net deur mans gehandhaaf moet word? Beslis nie Vicki Vermaak nie.

Vicki is onlangs as die eerste vroue patrollie koördineerder van Sektor 7 van Krugersdorp se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) aangestel.

Lees ook: Sektor 7 GPF en gemeenskap staan haweloses in dorp by

Sy het dié rol amptelik op Dinsdag, 17 Januarie beklee maar is reeds al van Desember 2019 deel van haar plaaslike GPF. Sy het die News vertel dat haar man, Anton, voor haar by hul plaaslike GPF aangesluit het. Op ‘n dag het sy verby ‘n plaaslike skool gery en daar is ‘n kind deur ‘n kar gestamp. Vir haar was die gevoel van absolute hulpeloosheid die ding wat haar oortuig het om ook aan te sluit.

Lees ook: Ma van tweeling kraam; GPF help met geboorte

Sy het haar Vlak 3 Noodhulp kwalifikasie behaal en sedert Februarie 2020 die noodhulp vir Sektor 7 begin doen. Na ‘n ruk het sy ook op die uitvoerende raad gedien as vise-sekretaris en patrollie sekretaris. In 2022 is sy Patroleerder van die Jaar en drie keer voor dit as Patroleerder van die Maand aangewys.

In die begin van Januarie is sy genader oor die rol van patrollie koördineerder. Vir Vicki gaan die pos daaroor om die ander lede te motiveer, te lei en te beskerm.

“Ons is almal maar net mense en ek wil vir my mense opstaan omdat ek in hulle glo. Ek wil beskikbaar wees vir die gemeenskap,” het sy verduidelik.

Haar ergste herinnering vir haar as lid van die GPF is toe daar ‘n persoon aan ‘n hartaanval oorlede is terwyl die GPF besig was om bystand te lewer.

Hulle was ook een van die eerstes wat in Junie 2021 op die toneel was toe Corli van der Walt in haar motor geskiet is. Dit het vir Vicki hard getref omdat haar eie dogter omtrent dieselfde ouderdom as Corli se dogters is en omdat sy so wreed vermoor is.

Die gelukkigste herinnering is egter elke keer wat Vicki van ‘n toneel af wegloop en weet dat hulle iemand kon help.

“Dit gee my so ‘n warm gevoel,” het sy vertel. Sy onthou spesifiek die dankbaarheid in een vrou se oë toe hulle haar bygestaan het nadat haar man by die huis oorlede is.

Vicki, wat nou 43 jaar oud is, het een dogter en werk ook voltyds deur die dag. Dus vat dit harde werk om die balans tussen werk, die huis en die GPF te handhaaf, maar Vicki floreer in stresvolle situasies.

Gelukkig is haar dogter al bietjie ouer en haar man is net so lief vir die GPF.

Aan diegene in die gemeenskap wat daaraan dink om by die GPF aan te sluit wil Vicki sê; “As jy lief is vir jou gemeenskap, jou stad en jou land moet jy aansluit. Wanneer jy opofferinge in jou gemeenskap maak, maak jy ‘n standpunt vir die tipe gemeenskap waarin jy wil woon – jy laat jou stem hoor.”

Sy wil ‘n veilige dorp skep vir haar geliefdes en glo dit gaan die hele gemeenskap vat om dit reg te kry.

“Ons maak dit hier beter en dan gaan mense sien dit kan gedoen word. Jy hoef nie noodwendig altyd braaf te wees nie maar as jy iets sien wat nie reg is nie, vertel iemand, soos jou plaaslike GPF sodat hulle aandag daaraan kan gee. Elkeen moet net sy deel doen.”

Sy het vertel dat die patrolleerders saam wie sy werk ongelooflik is en dat almal so mooi mekaar uithelp. Sy glo sy sou nie hierdie rol kon vertolk as dit nie vir die span is wat agter haar staan nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button