High SchoolLocal newsSchools

‘n Besige maar gelukkige lewe lê vir Christine voor

Christine Visser is bewyse dat as jy hard werk en fokus op jou drome kan jy dit laat waar word.

Christine Visser is bewyse dat as jy hard werk en fokus op jou drome kan jy dit laat waar word. Sy is Hoërskool Monument se matriekklas van 2022 se toppresteerder en het ses onderskeidings, met ‘n uitstekende 100 per sent vir Dansstudies, vir die eindeksamen behaal.

Christine het vertel dat haar raad aan die 2023 matrieks sal wees om nie op te gee nie.

“Ek was nie noodwendig altyd die toppresteerder nie. Ek was eintlik skaars op die top 10 soms. Ek het net nog altyd ‘n droom gehad om tandheelkunde te gaan swot en my kop op dit gesit en gefokus en toe kry ek nie te slegte resultate nie,” het sy laggend verduidelik.

Op skool het sy Afrikaans, Engels en Wiskunde gehad met Lewens Wetenskap, Fisiese Wetenskap en Dans as haar keuse vakke.

“Ek kan nie kies tussen Dans en Fisiese Wetenskap nie. Ek het die wonderlikste juffrouens gehad, Hulle het my so baie geleer, nie net oor die skool nie maar oor die lewe. My ekstraklas tannie was ook vir my ‘n wonderwerk,” het sy geantwoord op die vraag oor watteer vak haar gunsteling was.

Ongelukkig het sy haar sewende onderskeiding met net een per sent gemis.

Haar droom is om tandheelkunde te gaan studeer en sy het keuring gekry by die Sefako Makgatho Health Sciences University (SMU).

“Ek is so dankbaar dat ek keuring gekry het by SMU, maar ek wag nog want ek wil eintlk baie graag University of Western Cape (UWC) toe gaan. My sussie swot in die Kaap so ek wil graag daar naby swot.”

Sy het bygevoeg dat hulle nog niks gehoor het nie en hou maar duim vas vir positiewe terugvoer.

“As ek nie so gelukkig is nie oorweeg ek dit om miskien net Wiskunde te herskryf en hard te leer en hopelik verbeter dit my punte. Dan kan ek weer aansoek doen.”

Sy het haar skool loopbaan in Laerskool Muldersdrif begin. Sy het nog altyd netbal gespeel en het ook op hoërskool eerstespan netbal gespeel saam met Chamone Grobler en Tarryn Sabie wat ook uitmuntend presteer het in hul 2022 matriekjaar.

Lees ook: Stywe drukke en trane van blydskap vir Monnas-matrieks

“Ek moet sê ek is ‘n baie gebalanseerde mens. Ek voel dankbaar vir al die ure se netbal en ten minste twee tot drie ure se dans elke dag, want dit het my geleer om my tyd beter te bestee.”

As daar een ding is wat haar matriekjaar haar wel geleer het en wat sy graag vir ander matrieks wil sê, is dit om tydens die rekord en eindeksamen jou buitemuurse aktiwiteite bietjie te stop.

“Fokus dan net jou akademie, want dit het werklik vir my baie gehelp.”

Lees ook: KYK: Monnas-matriekgroep van 2023 opgewonde oor nuwe skooljaar

Sy sal haar vriende die meeste mis noudat sy klaar is met skool en veral die herinneringe wat sy saam met hulle gemaak het. Een van haar gelukkigste herinneringe, die een wat sy ‘die kersie op die koek’ noem, was beslis die matriekafskeid. Sy het gesê dit is een wat sy nooit sal vergeet nie.

Christine wil graag aanhou om haar passie vir dans uit te leef en het vertel dat dit haar eerste liefde is.

“Ek is mal daaroor, dit maak my net so gelukkig en ek het die wonderlikste dans juffrou. Dit is net my happy place.”

Sy sien baie uit na die toekoms, na nuwe geleenthede, nuwe vriende en net om ‘n nuwe plek te leer ken.
Oor vyf jaar sal sy graag ‘n besige maar gelukkige lewe wil hê en hopenlik ook amper klaar wees met haar tandheelkunde kursus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button