Nandi ‘n besige skoonheidsbytjie
Sy het haar 2022 met liefdadigheid afgesluit en sommer binne die eerste paar dae van 2023 ook so afgeskop.
Nandi Oosthuizen kan maklik beskryf word as die goeie feë van die Wes-Rand.
Nie net is sy beeldskoon nie, maar haar liefde vir diere en haar medemens is iets wat sy al van kleintyd af saam met haar dra. Sy het 2022 met liefdadigheid afgesluit en sommer binne die eerste paar dae van 2023 ook so afgeskop.
Sy het vertel dat haar verloofde, Wynhand Bruyns, se sussie gestremd en ook in ‘n rolstoel is. Die manier wat Wynhand se ma en pa na sy sussie omsien het vir Nandi baie aangeraak en sy vertel hoe sy sussie glimlag oor die kleinste dingetjies. Dit het haar laat besef dat sy die plekke moet help.
“Die glimlagte op die gesigte van die mense wie ek bederf is vir my die grootste beloning.”
Lees ook: Miss Krugersdorp finalist brings festive smiles
Aan die einde van verlede jaar het sy vier sakkevol klere na die Salvation Army geneem. Sy het vertel dat die klere donasies van haar vriende was en sy wou net help waar daar nood is.
“Die oom het ook gesê dat die klere wat nie pas nie word verkoop en daardie geld word deur die organisasie gebruik vir die mense se behoeftes.”
Nandi het vroeg in die nuwe jaar by Dr Yusuf Dadoo, Krugersdorp Privaat en Pinehaven hospitale ‘n draai gaan maak om vir die nuwe mammas met pasgebore babas gebreide babasokkies uit te deel.

Sy het die idee by haar ouma Elsabe Marais gekry. Ouma Elsabe en Nandi se ander ouma, Elize Bruyns, het toe vir haar meer as 100 pare babasokkies gebrei.
“Ek het besluit om die baba booties uit te deel as ‘n goeie gebaar vir die mammas en babas wat nuwejaar nie saam met hulle gesinne kon spandeer nie.”
Haar vrygewigheid het nie daar gestop nie en op 4 Januarie het sy ‘n verrassingsbesoek aan Adonai Huis gaan aflê om vir die bejaardes ook gebreide pantoffels en ‘n klein geskenkie uit te deel.

“Soms vergeet jongmense van die bejaardes in ‘n versorgingsentrum. Ek voel vreeslik jammer vir dié waarvan daar al vergeet is. Hulle het die besoek en die geselskap so baie waardeer.”
Vroeg in Januarie (en ook op 10 Februarie) het sy by Ebenheser Huis gaan kuier. Met haar eerste besoek het sy vir die inwoners tuisgebakte koekies en ‘n klein geskenkie gevat en tydens die tweede besoek het sy broodnodige klere, gordyne en beddegoed vir hulle geneem.

Toe op 11 Januarie het sy by die Queen Butterfly en Pathways skole gaan kuier waar sy boeke uitgedeel het wat die onderwysers kan gebruik om vir die kinders te lees.
In Randfontein het sy weer vir die weggooi diere by Cast Aways gaan kuier en danksy ‘n groot donasie kon sy vir die organisasie honde- en katkos vat. Sy het die dag afgesluit deur bietjie met die diere te speel en het vertel sy sou elkeen huistoe neem as sy kon.
Haar verloofde het ook ‘n stryd met kanker gehad en Nandi het selfs by die hospitaal se departemente besoek afgelê en vir die susters geskenkies gevat. Sy het vertel dat kanker haar so na aan die hart lê en het daarom besluit om die susters te bederf. Vir haar is Wynhand se uithou en aanhou vermoë ‘n inspirasie en probeer sy self om langs hom sy moeilike pad te stap.
“Mense weet nie altyd hoe die pasiënte asook die susters ietsie klein nodig het nie. Al het die dae nie altyd maklik gegaan vir my verloofde nie, het hy nooit opgegee nie, maak nie saak wat nie.”
Maar hierdie doen sy nie net omdat sy ook nou deelneem aan die Ms Krugersdorp-kompetisie nie, maar vertel dat sy al van kleintyd af haar broodjies deel met die wat dit nodiger het.
“Ek doen liefdadigheid uit my eie, sonder ‘n sash of kroon, of kompetisie om my aan te spoor. Ek hou daarvan om mense te help sonder om iets terug te verwag.”
Sy het selfs vertel dat sy slakke uit die pad sal vat voordat sy of iemand anders op een trap.
Deur dit alles het sy meer oor haarself geleer, sy vertel dat sy meer selfvertroue het en makliker met mense kan gesels om haar gemeenskap te help.
“Maak nie saak hoe besig jy is nie, jy kan nogsteeds ‘n tydjie inwerk om ‘n verskil te maak in iemand anders se lewe, maak nie saak hoe klein of groot nie.”
Haar droom is om eendag aan Mej Suid-Afrika deel te neem, maar vir eers gaan sy hard probeer om aan te hou ‘n verskil maak in die mense in haar gemeenskappe se lewens.
