Local news

Familie-badkamer in vlamme: Als per toeval of net ‘n vloek?

Daar is al geglo dat huise met dié kunswerk 'The crying boy' afbrand. 'n Familie van Monument het dit juis ervaar toe hulle badkamer se geiser aan die brand geslaan het.

‘n Familie het onlangs met vlamme bo hul koppe wakker geword, maar danksy die vinnige optrede van bure, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die brandweer is die skade net tot hul badkamer beperk.
Maar was hierdie brand per toeval of eerder deel van ‘n vloek?

Maureen Jordaan het die News vertel dat hulle Dinsdagoggend, 21 Februarie omstreeks 03:00 wakker geword het van die gedruis van vlamme. Hulle was aan die slaap in hul hoofslaapkamer toe hulle die geraas hoor. Haar man het dadelik na die badkamer gekyk en die rooi van die vlamme gesien.

Ek het gedink dit is ‘n tornado of iets want die vorige aand het die wind vreeslik gewaai,” het sy verduidelik.

Haar man het sy vuis deur die plafon geslaan sodat hulle hul brandblussers kan gebruik om die vlamme te blus. Hul bure Mariaan en André Nel het hulle brandblussers ook gebring.

Maureen Jordaan wys waar die brand ontstaan het.

“Twintig minute later was die brandweer, polisie en GPF daar.”

Sy het vertel dat Dale en Mitch Mac Rae van die GPF voor die brandweer opgedaag en ook gehelp het om die brand onder beheer te kry.

Hulle het later uitgevind dat die geiser se element aan die brand geslaan het en dat beurtkrag ook ‘n faktor was.

“Dit was fantasties hoe professioneel en vinnig die brandweer was. Mens hoor so min goeie goed van hulle, hulle was uitstekend. Ek wil mense waarsku want min het brandblussers in hul eie huise. Mens dink as ‘n brand by jou huis ontstaan sal dit in ‘n vertrek soos die kombuis wees, maar jy weet nooit.”

Die Jordaans se badkamer na die brand.

Sy het bygevoeg dat sy dankbaar is dat die Here hulle gespaar het asook vir die vinnige optrede van haar man.

Laggend het sy vertel dat sy jare gelede ‘n skildery genaamd The crying boy gekoop het en ‘n kort rukkie gelede het sy The crying girl by haar buurvrou se ma geërf.

Die ‘n kunswerk van Giovanni Bragolin, ‘n Italiaanse skilder, is in 1950 in massas geproduseer en versprei. Daar is verskeie weergawes van die kunswerk, maar almal het ‘n seun of dogter wat ‘huil’. In 1985 het ‘n koerantberig onthul dat brandweermanne onbeskadigde kopië van hierdie kunswerk uit afgebrande huise sou haal. Later het mense begin glo dat huise met dié kunswerk in, sal afbrand.

Die Jordaans se badkamer na die brand.

Was die brand in hul huis net blote toeval, of ‘n 73-jarige oue vloek? Maureen weet nie of sy van haar twee kunswerke gaan ontslae raak nie, ‘ek hou van hulle’, het sy laggend vertel.

Sy wil graag almal bedank wat daardie aand gehelp het om te verhoed dat die res van hul huis ook afbrand.

Het jy dalk ‘n verhaal of staaltjie oor een van die kunswerke wat jy besit en met die News wil deel? Stuur dit gerus aan natashap@caxton.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button