Honeyfield wys bietjie liefde op Valentynsdag
Kos, lekkernye en geskenke is onlangs by die Tower of Life uitgedeel danksy Honeyfield Charity en borge.
Honeyfield Charity het onlangs verseker dat behoeftige mense op Valentynsdag die liefde voel toe hulle kos, lekkernye en geskenke by die Tower of Life uitgedeel het.
Hulle kon Sondag, 12 Februarie vir die mense van die Tower of Life, ‘n nabye kleuterskool en verbygangers ‘n lekker warm bord macaroni-en-kaas met boontjieslaai gee en ook vir die kinders speelgoed en kolwyntjies uitdeel. Daar was verder ook mense van Waterfall Haven wat vir die geleentheid aangery is.

Meeste van die dag se lekkernye het uit Honeyfield Charity-lede se eie sakke gekom maar Anne Bezuidenhout van die organisasie het vertel dat die hemde en die speelgoed geborg was.
Die span het reeds die vorige week aan die werk gespring om die beplanning reg te kry asook die dekor vir die dag, sodat hulle kan seker maak dat dit ‘n ekstra spesiale geleentheid vir almal was.

“Die kos het ons op die dag gemaak sodat dit vars en warm is,” het Anne gesê.
Hulle het verlede jaar ook kosprojekte vir die gemeenskap gehad en selfs potjiekos vir behoeftiges in Desember gemaak. Anne het vertel dat hulle na Covid bietjie swaar getrek het en ook minder donasies begin inkry.

Sy het bygevoeg dat volgens haar is die grootste nood in Krugersdorp by die mense wat op straat en in skuilings bly.

Hulle is altyd opsoek na nie-bederfbare kos en as jy betrokke wil raak kan jy hulle kontak op 082 378 1395.
