Eens verlate weeskind op die punt van roem
'My droom is om kinders te help veral in kinderhuise en die mense in die gemeenskap wat minderbevoorreg is. Die ultimate sal wees om elke dag 'n lewe te verander deur net my getuienis te deel'.
Thabang Malan is uiteindelik besig om sy droom te bewaarheid en gaan binnekort sy eerste enkelsnit vry stel.
Die lied, wat nog nie ‘n naam het nie, sal einde April bekendgestel word op alle musiek platforms en Thabang het vertel dat hy daaraan dink om dit ‘Die storie’ te noem.
Dit is egter juis Thabang se storie wat die harte van soveel mense reeds in 2020 aangegryp het toe hy op Jacaranda FM se Good Morning Angels gesing het en die aandag van Bobby van Jaarsveld en Joe Black getrek het.
Toe Thabang net drie dae oud was het hy vir die eerste keer in ‘n plek van veiligheid beland – sy eerste huismoeder is Rina Malan en al is hy Tshabalala gebore ken almal om as Thabang Malan. Hy het hier gebly saam met twee ander seuns en 23 meisies totdat hy 14 jaar oud was. Daarna is hy na verskeie ander plekke van veiligheid geskuif, wat vir hom baie angs veroorsaak het en vertel dat hy soms gesukkel het met depressie. Hy het sy Malan-familie baie gemis maar het tog weer elke keer ‘n nuwe familie gekry wanneer hy rondgeskuif het.
Sy laaste jaar van skool is hy na Boys Town in Magaliesburg geskuif en toe hy daar klaargemaak het is hy verwys na die Quegal Restoration and Refuse (QRRC) Centre in Magaliesburg waar hy weereens nuwe mense ontmoet het wat hy familie kan noem. Dit is juis dié span by QRRC wat hom gehelp het om sy sang drome te bewaarheid.
Daar is verskeie kere in sy lewe waar sy liefde vir musiek net weer bevestig is. Die heel eerste keer was in 2012 toe hy Afrikaans is Groot en Skouspel DVD’s gekyk het. Hy het ‘n groot Bobby van Jaarsveld aanhanger geword en het veral Bobby se liedjies begin sing. By die Laerskool Voortrekker se Eeufeeshet het hy aan sangkompetisies deelgeneem en baie goed gedoen.
In 2020 het die Good Morning Angels vir sy stemklasse betaal en hy het ook ‘n vertoning saam met Joe Black gedoen.
Thabang het vertel dat as dit nie vir sy maatskaplikke werker en die span by QRRC, veral Quinton Koeberg, was nie weet hy nie waar hy vandag sou wees nie.
Hy het nie self sy enkelsnit geskryf nie en het vertel dat hy dit eerder vir die professionele gelos het, maar verduidelik wat die lied vir hom beteken – vir al die moeilike dinge wat hy moes deurmaak het hy dit altyd met ‘n Marvel-superheld verbind.
Hy het vertel dat net soos Spider-Man het hy ook deur baie dinge gegaan en sy familie verloor voordat hy sy superkrag gekry het. Sy enkelsnit gaan oor die superhelde met wie hy vereenselwig het.
Vir hom was die moeilikste deel van die proses om te besef dat hy dit sonder sy familie of sy ‘vakansie-familie’ moet aanpak. Maar hy weet hy doen dit vir homself om sy lewe te begin en sy drome te bewaarheid. Dit is vir hom lekker om te sien hoe God in sy lewe werk en alles beplan het.
Hy wil volgende vir God vra om hom gereed te maak sodat hy saam met ander sangers kan begin optree.
“Die volgende stap is om weer my mike op te tel en my storie te deel deur verskillende liedjies. Ek wil graag myself selfstandig maak. Nie net met sang nie maar ek wil ook in TV-aanbieding en toneelspel gaan. My droom is om kinders te help veral in kinderhuise en die mense in die gemeenskap wat minderbevoorreg is. Die ultimate sal wees om elke dag ‘n lewe te verander deur net my getuienis te deel.”
