Katryn se ongeluk was net dit – ‘n ongeluk
'Ons is so dankbaar dat die Here wonderlike mense oor haar pad gestuur het en haar gespaar het. Dit is 'n wonderwerk' – vrou wat klein Katryn met motor getref het.
Die negejarige Katryn Trollip het ernstige beserings opgedoen toe sy op Dinsdag, 28 Maart deur ‘n motor getref is. Met genade van bo het die klein vegtertjie oorleef maar daar is steeds ‘n lang pad van herstel wat voorlê.
Dit blyk dat die voorval niemand se skuld was nie maar bloot net ‘n ongeluk en Charlene Bihl, die vrou wat die voertuig bestuur het, het openhartig met die News gesels.
Charlene, self ‘n ma van twee jong kinders, werk by ‘n kerk deur die week en het vertel hoe sy die afgelope 9 jaar elke dag dieselfde pad werk toe ry. Net na twee op die betrokke dag het sy die kerk verlaat met haar kinders in die kar. Sy het glo oor ‘n groen verkeerslig gery en gesê dat sy altyd stadiger ry as sy in daardie omgewing is juis omdat daar so baie kinders en mense is wat daar rondbeweeg.
Lees ook: Chamdorweg: Dit is ongeluk na ongeluk weens lang gras
“Ek onthou die pad was skoon. Daar was geen voetgangers nie maar daar is altyd mense op die sypaadjie,” het sy vertel.
Sy het op die pad voor haar gefokus en nie gesien Katryn probeer dit oorsteek nie. Die eerste wat sy bewus was van Katryn was toe sy die slag hoor. Volgens haar het sy dadelik gestop. Sy kon wel nie verstaan waar die slag vandaan gekom het nie maar toe sy om die kar loop het sy vir Katryn gesien.
Lees ook: Motorfietsongeluk eis een lewe en los familie in skerwe

“Sy was bewusteloos en daar het bloed uit haar mond gekom. Ek het dadelik my foon in die kar gaan haal en gesê my kinders moet in die kar wag. Daarna het ek ‘n stemboodskap op die Krugersdorp Noodgroep geplaas.”
Sy het drie jaar gelede by die groep aangesluit en wou net hulp kry vir Katyrn.
Adjudant-offisier Martin Heyns wat die saak ondersoek het, het aan die News vertel dat hy baie gelukkig was om kringtelevisie-beelmateriaal by ‘n besigheid daar naby te kry.
Op die video kan gesien word dat Katryn twee keer gekyk het voor sy die pad oorsteek maar dat sy die laaste keer in die ander rigting gekyk het en nie Charlene se kar gesien het nie. Sy is toe met die linkerkantste spieëltjie getref.
Heyns het ook gesê die beelmateriaal wys dat Charlene dadelik gestop het om hulp te verleen. Hy het vertel dat daar bewerings was dat sy weggery en te vinnig gery het maar die beeldmateriaal wys dit is nie die geval nie.
‘n Saak van nalatige en roekelose bestuur is teen Charlene oopgemaak en Heyns het bevestig dat die saak na die staatsaanklaer is maar glo nie sy sal vervolg word nie.
Charlene het vertel dat sy op die toneel sleg behandel is en selfs deur een inwoner geklap is. Hulle het ook haar foon gevat en sy het gesê dat sy probeer verduidelik het dat sy besig was om ‘n ambulans te probeer uitkry.
“Ek wou wag vir die ambulans om te kom maar die polisie het gevra ek moet agter hulle aanry,” het Charlene gesê.
Sy het vertel dat sy en haar familie self deur ‘n moeilike tyd gegaan het na die ongeluk en deesdae ry sy ‘n ander pad kerk toe.
“Daardie aand het ons al ons kerkmense en familie gevra om vir Katryn te bid. Ons is so dankbaar dat die Here wonderlike mense oor haar pad gestuur het en haar gespaar het. Dit is ‘n wonderwerk.”
Riekie Trollip, Katryn se ma het na die ongeluk aan die News gesê; “Ons is glad nie kwaad vir die vrou wie haar gestamp het nie. Dit was ‘n ongeluk wie nie sy of Katryn op daardie stadium kon verhoed nie. As almal kan vergewe soos ‘n kind sal die wêreld ‘n beter plek wees.”
Sy het onlangs aan die News vertel dat Katryn nog ‘n operasie sal moet ondergaan en bygevoeg dat hulle self nie ‘n saak teen Charlene wou oopmaak nie maar volgens wet moes daar ‘n saak wees.
