Local news

Wie en wat is die GPF?

'Jy kan op die bank sit en niks doen of jy kan betrokke raak en 'n verskil maak.'

Mens kan deesdae nie net op ‘n gewone alarmstelsel staatmaak om veilig te voel nie, maar om deel te word van jou plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sal jou toegang gee tot belangrike inligting en die nooddienste wat jou in ‘n noodgeval sal help.

Deon Visser van Sektor 7 GPF het onlangs met die News gesels en verduidelik dat Sektor 7 uit Noordheuwel, Rangeview en gedeeltes van Kenmare bestaan. Op die stadium het hulle 24 patrolleerders wat hierdie areas op hul eie onkoste patrolleer. Sektor 7 se bestuur wil graag hul gemeenskap uitnooi om by hulle aan te sluit.

Sektor 7 GPF-lede op die toneel van ‘n ongeluk. Foto verskaf.

Die GPF bestaan uit lede, patrolleerders, noodhulpbeamptes en traumaberaders. Wanneer jy by hulle aansluit, verkry jy toegang tot hul WhatsApp-groepe waar jy daagliks kommunikasie ontvang oor wat in die area aangaan, asook gereelde misdaadstatistieke.

Jy kan ook ‘n GPF-radio koop om in jou huis hou. Een keer per maand word die radio’s getoets en elke persoon in die familie word ook geleer hoe om die radio te gebruik.

Sektor 7 GPF-lede op die toneel waar ‘n trok omgeslaan het. Foto verskaf.

“Dit is makliker om net ‘n knoppie te druk as om die nommer op jou foon te soek as daar ‘n noodgeval is,” sê Visser.

Stefanie Wolfaardt, Sektor 7 se skakelbeampte, verduidelik dat hul patrolleerders nie net op misdaadvoorvalle reageer nie, maar ook sigbaarheidspatrollies doen, op inbrake reageer en saam met die polisie werk. Hulle help om die nodige dienste in te roep wanneer daar ‘n probleem is en help ook met beheermaatreëls by brande en ongelukstonele.

Sektor 7 GPF-lede op die toneel van ‘n ongeluk. Foto verskaf.

Hul noodhulpbeamptes doen formele kursusse en het sertifikate in noodhulp. Al hul patrolleerders ontvang ook opleiding by die brandweer en kan dus beheer uitoefen by ‘n misdaad- of ongelukstoneel.

Visser is al meer as ses jaar deel van die GPF en hy het aanvanklik aangesluit omdat hy wou bydra tot die gemeenskap.

Sektor 7 GPF-lede help om van ‘n boom ontslae te raak. Foto verskaf.

“Jy kan op die bank sit en niks doen, of jy kan betrokke raak en ‘n verskil maak.”

Wolfaardt is nou meer as ‘n jaar deel van die GPF en het as Sektor 7 se sekretaresse begin voordat sy die skakelbeampte geword het. Sy was nuut in die omgewing en wou graag weet wat in die area waar sy woon aangaan, asook hoe veilig dit is.

Sektor 7 GPF is gereeld deel van nooddienste se bewusmakingsveldtogte. Foto verskaf.

Visser sê hulle het deesdae ‘n probleem met huisbrake en gewapende rowe. Hy voeg by dat hul patrolleerders baie spesiale mense is wat hul eie veiligheid opsyskuif en in situasies beland waar hulle nie al die inligting het nie.

“Hulle is mense wat baie omgee vir hul gemeenskap.”

Sektor 7 GPF is gereeld deel van nooddienste se bewusmakingsveldtogte. Foto verskaf.

Hy noem dat die voordele van die GPF is dat indien iets by jou huis gebeur, is daar altyd hulp byderhand. Hulle het twee sekuriteitsmaatskappy met wie hulle nou saamwerk – EC Sekuriteit en Piquant Sekuriteit. Hulle het ook ‘n kantoor op Robert Broomrylaan en kameras in hul areas wat deurgangs gemonitor word.

Mens sal dink dat hierdie tipe veiligheid duisende rande gaan kos, maar die jaarlikse aansluitingsfooi is slegs R450, of R50 per maand. Daar is ook ‘n R100 addisionele aansluitingsfooi vir nuwe lede wat ‘n bordjie vir jou huis insluit. Die geld word gebruik vir operasionele koste, kameras, kantoorspasie, ‘n salaris en internet. Met meer ledegelde sal hulle ook meer kameras in die area kan oprig.

Sektor 7 GPF-lede baken ‘n area af. Foto verskaf.

Indien jy by die GPF wil aansluit, skakel gerus vir Sonet Schultz by 072 425 0121 of stuur e-pos aan info@sector7cpf.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button