Meer as net ‘n uitreik in Krugersdorp-Wes
Die In Victory-gemeente wil aanhou om 'n verskil te maak in Krugersdorp en het onlangs hande gevat met die Lechem Foundation tydens 'n uitreik in Krugersdorp-Wes.
“Liefde kan nie net ‘n woord wees wat ons spreek nie, dit moet oorgaan in dade.”
So het pastoor Erik Boshoff van In Victory Kerk gesê wat op Saterdag, 6 Mei met die Lechem Foundation hande gevat het tydens ‘n uitreiking in Krugersdorp-Wes. Byna 40 lede van die gemeente was betrokke waar kos en klere uitgedeel is aan mense in nood.
Maar volgens Erik was daar ‘n groter prentjie.
Die doel was om ook mense geestelik te voed deur liefde en die Woord te versprei. Uitreike is belangrik want die nood rondom ons is groot en ons as kerk kan ‘n verskil maak in Krugersdorp,” het Erik gesê.


In Victory Kerk is gedurende die Covid-19-tydperk op 7 Februarie 2021 gestig en Erik het hulle as ‘n gemeente beskryf wat lewe gee. Hul eerste diens was by ‘n klein trouplek in Krugersdorp. Vandag het hul ledetal verdubbel en versprei hul die Woord in ‘n skoolsaal in Silverfields.
“Ons glo ons is steeds besig om die Here se naam groot te maak in Krugersdorp. Daar is vir ons niks beter as om te sien hoe God mense se lewens verander nie. Ons weet dat as ons vir God ‘n platform kan gee sal God Krugersdorp kan genees.


“Ons volgende stap as gemeente is om aan te hou om ‘n verskil te maak. Ons wil die nood en behoeftes sover ons kan aanspreek. Ons wil graag vir die wintermaande wat voorlê ook probeer om iets warms terug te gee. Ons poog ook om ons oor ouetehuise te ontferm.”
Erik het afgesluit deur te sê, “Ons boodskap aan Krugersdorpers is eenvoudig, ‘Jesus is die antwoord’.”



