KYK: Bejaarde vrou se pleit na hengelaars oor hadeda verstrik in vislyn
'n Hadeda wat in 'n vislyn verstrik geraak het kuier gereeld by 'n bejaarde in Monument. Die 85-jarige doen nou 'n beroep op hengelaars en vissermanne om seker te maak dat vislyn nie oral rondlê nie.
Cordette du Plessis van Monument rig ‘n vriendelike versoek aan hengelaars om die gebied rondom hul op te ruim sodra hulle uitstappie langs die viswaters geëindig het.
Die 85-jarige Cordette doen ‘n beroep op hengelaars en vissermanne om meer bedag te wees omdat daar al vir die laaste paar weke ‘n hadeda voël, wat se pote in vislyn verstrik is, by haar kom kuier.
Sy het verduidelik dat sy hom nie gevang kan kry nie, want hy vlieg die heeltyd weg. Op die stadium sorg sy maar net dat daar genoeg kos en water is wanneer die voël in haar erf is. Sy hoop eintlik dat die vislyn aan iets sal haak en dan loskom.
Cordette is nogal bekend om diere in nood te help en het al vantevore met die News kontak gemaak oor verlate diere. Hierdie is ook nie die eerste keer wat sy ‘n voël wat in vislyn verstrik is, teëkom nie.
Sy vertel dat sy jare gelede sowat eenkeer ‘n week om die dam gaan stap het en sodoende vishoeke en -lyne opgetel het. Die ouderdom het haar ingehaal en deesdae sien sy ook nie meer kans om deur hengelaars sleggesê te word nie.
Aan die begin kon die voël, wat sy Hadida begin noem het, gemaklik rondloop omdat die vislyn toe nog lank was. Maar deur die weke het die voël se pote al hoe meer in die vislyn verstrik geraak en is sy nou bang dat die gebrek aan bloedsirkulasie rondom die beentjie gaan veroorsaak dat die poot tot niet raak.
Hadida het egter ‘n maatjie wat elke dag saam vir Cordette kom kuier en is nou al so mak dat wanneer sy die voël roep, dan kom dit nader. Maar tog kry sy dit nie gevang nie.
Sy het vertel dat mense voëls in soortgelyke situasies na haar toe gebring het en dat sy een dag met een van die voëls veearts toe gejaag het. Met genade kon die veearts die voël se beentjie red.
Volgens haar is daar ook ‘n groot probleem met kinders wat met windbukse skiet, mense wat gif uitsit en dan eet die voëls dit en haweloses wat in die veld bly en die diere vang om te eet.

