Local news

Hospitaal vra om verskoning na sisteem-kopseer

Nadat Mercia Steynberg gekla het oor die Dr Yusuf Dadoo Hospitaal se nuwe sisteem het die bestuur om verskoning gevra en verduidelik wat gebeur het.

Vir Mercia Steynberg was dit ‘n moedelose situasie om onlangs by die Dr Yusuf Dadoo Hospitaal te gaan sit vir hulp net om te hoor haar lêer is vir die soveelste keer weg. Steynberg, wat dringende mediese hulp nodig gehad het, het besluit om te loop na ure se wag en ‘n nuwe sisteem wat nie vir haar sin gemaak het nie.

• Also read: Thank you, Dr Yusuf Dadoo Hospital

Die 45-jarige het aan die Krugersdorp News vertel dat sy al 10 jaar sukkel met haar skildklier. In dié tyd het sy elke keer haarself na die hospitaal gewend vir hulp. Maar sy beweer dat daar al telkemale vir haar gesê is dat haar bloedtoetse of lêer weg is. Dan moet sy ‘n sublêer oopmaak en in so ‘n geval weet hulle nie watter medikasie sy gebruik nie, of hoeveel, en dan moet alles weer van voor af uitgewerk word, volgens haar.

Dus, toe sy onlangs hospitaal toe gaan met haar skildklier, ‘n seer gewrig en ‘n maagbreuk, was sy weereens uiters frustreerd toe haar lêer kwansuis weg was.

Steynberg het vertel dat sy nie die geld het om altyd hospitaal toe te kan gaan nie, en dié dag het sy ‘n saamry geleentheid na die hospitaal gekry. Sy was teen 05:30 daar en die eerste persoon in die ry. Soos die mense begin aankom het, het sy gesien dat hulle na toonbank een gaan. Sy het self ook soontoe gegaan. Nadat hulle haar bloeddruk en suiker getoets het, is sy na toonbank drie gestuur om haar lêer te kry. Na ‘n wyle se wag, het hulle vir haar gesê sy gaan ‘n nuwe sublêer moet oopmaak omdat hulle nie dadelik haar lêer kon opspoor nie.

Dit is daar en dan dat sy besluit het om dit te los en huis toe te loop.

Ek is bang om hospitaal toe te gaan want ek weet nie wat om te verwag nie,” het sy gesê.

Die News het intussen uitgereik na die hospitaal om te vra oor hulle nuwe sisteem en Steynberg se ondervinding.

Puseletso Mabidikame, die hospitaal se skakelbeampte, het verduidelik hoe hulle sisteem werk.

Sy vertel dat hulle wel ‘n nuwe sisteem verlede jaar ingebring het en hoewel hulle ‘n elektroniese stelsel het, neem hulle steeds data met die hand op as daar beurtkrag is. Dit maak dat dinge soms langer vat as gewoonlik.

• Also read: LETTER: Service at Dr Yusuf Dadoo Hospital’s OPD clinic ‘fantastic’

Mabidikame het gesê dat meeste van hulle pasiënte bewus is van die stelsel. Sy het bygevoeg dat hulle wel ‘n liaseer-plan in plek het en dat ‘n nuwe lêer net oopgemaak word vir tydelike doeleindes terwyl hulle die hooflêer probeer opspoor. Die nuwe lêer word dan later by die hooflêer gevoeg.

Mercia se lêer was nie weg nie, dit het net langer gevat om op te spoor maar is later opgespoor.”

Die hospitaal het met Steynberg kontak gemaak en om verskoning gevra. Sy het toe op 7 Junie die hospitaal besoek en is gehelp. Sy het die News laat weet dat sy tevrede is met hoe hulle haar gehelp het.

Indien daar klagtes oor die hospitaal is kan die publiek die klagtebestuurder Enos Muyanalo by 011 951 6159 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button