Local news

‘n Kwas gee jou die wegbreek wat jy nodig het

Bekende kunstenaar Anton Liebenberg leer nie net sy studente hoe om te skilder nie maar ook hoe om hulle besige lewens vir 'n rukkie agter te laat.

Kuns was nog altyd in Anton Liebenberg se bloed. Van kleins af het hy reeds met kleure geëksperimenteer en vandag is hy ‘n voltydse skilder en help ook ander om hul potensiaal opties te benut.

Die 50-jarige Anton is in Pretoria gebore en het daar skool gegaan en aan die Afrikaans Hoër Seunskool gematrikuleer. Hy kom uit ‘n groot familie en is die jongste kind met twee ouers broers en twee ouer susters.

Anton Liebenberg help uit by ‘n mondskilderklas.

“Ek het al op laerskool begin verf en begin speel met kleur op my ma se sitkamermat voor die TV.”

Op laerskool het hy reeds met sketse en verf geëksperimenteer en het kuns van graad agt to twaalf op skool as vak gehad. Vir eers was verf vir hom net ‘n stokperdjie, een wat op sy geskuif is toe hy op sy loopbaan begin fokus het.

Een van Anton Liebenberg se kunswerke.

Na skool is hy weermag toe om sy nasionale diensplig te voltooi, maar kuns was nog altyd in sy bloed en is selfs een jaar aangestel om die dekor vir die pantserkorps in Zeerust se militêre bal te verf.

“Met die afsterwe van my pa het ek weer die kwaste opgetel en van daar af kon ek toe nie stop nie. Tot vandag toe nog verf ek. Was nog altyd lief vir die natuur en dit het my gefasineer hoe ek dit op doek kan vaslê.”

Anton het na die weermag van werk tot werk geskuif en uiteindelik ‘n tekenaar geword. Hy was die projekbestuurder vir die SPAR hoofkantoor groep en na 16 jaar in die posisie het hy uiteindelik besluit om voltyds te skilder en klas te gee.

Gerda van Eck.

Dit is ook in dié tyd wat hy sy vrou, Lucinda, ontmoet het en die twee het agt jaar gelede Krugersdorp toe verhuis.

In 2018 het hy besluit om klasse aan te bied nadat dit duidelik geword het dat hy ‘n natuurlike gawe het om met mense te kommunikeer en sy kennis oor te dra.

Anton het vertel dat die eerste ding wat ‘n kunstenaar moet weet is hoe lig en donker werk en hoe kleursamestellings in ‘n skildery werk.

Julia Greyvensteyn.

“My gunsteling medium is olieverf en die temas waarvan ek hou is landskappe en seetonele. Alhoewel ek enige iets kan verf en my studente leer.”

Hy het vertel dat vir die drie ure wat sy studente elke week by hom kom sit, moet hulle konsentreer op die prentjie voor hulle. Dit laat hulle vir ‘n rukkie vergeet van hul alledaagse probleme en daarom is skilder baie goeie stresverligting.

“Baie van my studente kom net om te ontsnap en te ontspan in my klasse.”

Een van Anton Liebenberg se studente.

Anton help ook een keer ‘n maand uit by mondskilderklasse in Randfontein en leer die mondskilders hoe om hulle tegnieke te verbeter.

Sy raad is om nooit van ‘n foon of swak verwysings foto te werk nie.

Anton Liebenberg help uit by ‘n mondskilderklas.

“Gebruik altyd goeie verwysings en moenie die terpentyn drink nie,” het hy laggend vertel.

Sy klasse is van Maandae tot Saterdae en daar is oggend, middag en aandklasse. Jy kan hom skakel by 082 452 5919 vir meer inligting.

Een van Anton Liebenberg se kunswerke.

“Ek probeer om altyd my studente se potensiaal optimaal te ontwikkel sodat hulle eendag op hulle eie ‘n suksesvolle kunstenaar kan wees. Ek is huidiglik besig om drie studente se werke te stuur na die Winelands Art gallery in die Kaap.”

Studente praat oor Anton se klasse: 

• Gerda van Eck skilder al ‘n jaar en ‘n half en geniet die ontspanning. Haar gunsteling tema is om gesigte te verf.

• Julia Greyvensteyn skilder al twee jaar. Sy vertel dat skilder kos vir jou siel is en dat jy bevryding nodig het om net jouself te wees na ‘n besige week.

• Zjanique Scheepers skilder al van Desember en wil graag ‘n meester met olieverf wees. Sy wil nuwe tegnieke leer en wegbreek van als.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button