Vergifnis bring genesing twee jaar na Corli se dood
Twee jaar nadat 'n plaaslike veearts wreed vermoor is meters van haar huis af, vertel haar verloofde dat vergifnis en God hom help genees het.
Twee jaar na die skietdood van ‘n bekende veearts, Corli van der Walt, is die saak nog stil. Van der Walt se destydse verloofde vertel dat hy vergifnis gevind het en dat AfriForum ook nou by die saak betrokke is.
Van der Walt was die oggend van 12 Junie 2021 op pad werk toe, toe sy ‘n entjie van haar huis af langs die pad stil gehou het. ‘n Wit Isuzu bakkie het langs haar gestop en sowat 20 sekondes later is sy doodgeskiet.
Ferdie Kruger, haar se verloofde, het verduidelik dat die saak nou by die vervolgingsraad is. Máár, twee jaar later het die gebeure van daardie dag die manier verander hoe hy dink en dinge benader.

Hy haal die Franse priester en filosoof, Pierre Teilhard de Chardin aan, wie gesê het, “We are not human beings having a spiritual experience; we are spiritual beings having a human experience.”
Kruger vertel hoe hy spiritueel gegroei het en dat sy eerste struikelblok vergifnis was. Dit het hom ‘n jaar gevat om die persone verantwoordelik vir sy verloofde se moord, te vergewe.
Lees meer hier: Woman found fatally shot inside vehicle in Rangeview
“Ek het besef dat geregtigheid heel moontlik nooit sal geskied nie, want al weet ons alles, en al stem almal saam, begin dit lyk of daar moontlik nooit ‘n arrestasie uitgereik gaan word nie. Ek moes kies hoe ek dit wat op my pad gekom het gaan hanteer, en ek het gekies om dit aan God te oorhandig.
“Net toe ek dink ek het gedoen wat nodig is, lees ek in Mattheus; ‘Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg’.”
Lees meer hier: Woman killed in Rangeview: Bakkie possibly linked to the murder
Hy het gewonder hoe God dit van hom kan verwag, en hoe vergewe hy dit wat aan hulle gedoen is. Vir hom was die antwoord bejammering en het hy verduidelik dat om iemand jammer te kry, ‘n vorm van liefde is.
“Ek bejammer die persoon, want hy het sy siel verkoop vir ‘n oomblik in tyd. Ek moes hom ook seën en ek bid dat God ‘n pad in sy hart sal kry, want God kan nie in dieselfde hart as ‘n leuen leef nie.”
Dié insig het hom verander en hy het sy lewe vir God gegee. Hy het besluit om deel van iets groter te wees en het sy werk bedank en Durban toe verhuis, en aan die einde van die jaar emigreer hy.
“Om elke dag in die huis van ons drome te bly het my in die verlede laat leef. Om elke dag verby die plek waar Corli vermoor is te ry, het my hart daagliks gebreek en alles wat ons oor gedroom het, het vir my ‘n nagmerrie geword.”
Lees meer hier: Woman murdered identified as caring veterinarian
Hy het vertel dat dit soms voel asof dit net hy is wat geregtigheid wil hê.
“Ek is dankbaar vir dit wat die polisie probeer doen, maar ek is gefrustreerd met die tempo en die foute wat gemaak is. In my oë is dit speurwerk 1 nul 1 waarin die polisie vaal. As ek na die saak kyk, kan ek verstaan hoekom so baie kriminele wegkom en waarom soveel moorde nooit opgelos word nie.”
Kruger is ‘n lid van AfriForum en Thalita de Jongh, ‘n spesialisondersoeker vir die burgerregteorganisaie se privaatvervolgingseenheid, het betrokke geraak om ‘n oog oor die ondersoek en hofverrigtinge te hou.
“Ek is dankbaar vir hulle, want hulle sal druk op die polisie uitoefen om sekere dele van die ondersoek af te handel en antwoorde op vrae te verskaf.”
Lees meer hier: The day beloved veterinarian was killed – Cops on killer’s track
Hy het gesê hy sal nooit oor Corli kom nie, maar hy kan probeer aanbeweeg.
“Ek het aanvanklik skuldig gevoel omdat my rou minder geword het. Na Corli se moord het ek wanhoop ervaar en ek het gebid vir dood. Net na haar begrafnis het ek Covid opgedoen en ek het gedink my gebed is verhoor maar duidelik was dit nie God se plan nie.”
Vir maande het hy nog woede en wraak in sy hart gehad. Hy wou hê die skuldiges moet dieselfde as hy voel. Twee jaar later verlang hy steeds na haar, maar het besef dat hy haar lewe en die ongelooflike mens wie sy was wil herdenk en nie die manier waarop sy haar lewe verloor het nie.
As hy vandag vir Corli iets kon sê sou dit wees; ‘To love another person is to see the face of God’.
“Jy het my God se gesig gewys, ek het jou lief met my hele hart en ek is jammer vir die tye wanneer ek jou seergemaak het, vir die tye wat ek jou as vanselfsprekend aanvaar het. Dankie dat jy my spesiaal laat voel het en vir die spesiale maatjie wat jy in my lewe was.”
Hy wil geregtigheid hê sodat die hoofstuk in almal se lewens afgesluit kan word. Hy glo dat hulle hulself reeds gevonnis het omdat dit wat hulle aan sy verloofde gedoen het nooit uit hul gedagtes sal kan ontsnap nie.
“As hulle wel eendag gevonnis word is dit hulle aardse straf. Die straf wat hulle egter moet vrees sal die dag wees as hulle hul laaste asem uitblaas en voor God verantwoording moet doen.”
