G’n wegkruipplek langs dié Rangeview-woning
'n Onveilige erf in Rangeview is onlangs skoongemaak deur die gemeenskap om 'n bejaarde egpaar te ondersteun.
Koos Engelbrecht en sy vrou woon al vir 28 jaar in Rangeview en oor die jare het die oop erf langs hul huis ‘n wegkruipplek vir kriminele en haweloses geword.
Sektor 7 se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), plaaslike raadslid Devin Nieuwenhuisen en die brandweer het onlangs die erf vir die egpaar gaan skoonmaak.

Engelbrecht het vertel dat kriminele al drie of vier keer hul elektriese heining gesny en probeer inbreek het. Hulle dit al aan die munisipaliteit gerapporteer, maar die terugvoering is bloot dat dit privaatgrond is en die eienaar is verantwoordelik vir die instandhouding. Die Engelbrechts het egter geen idee wie die eienaar is nie.

Booswigte het al by hul huis probeer inbreek en twee vierwielmotorfiese het van hul eiendom ‘verdwyn’. Vier van hulle honde is vergiftig – die laaste een ‘n paar weke gelede. In November 2022 het huisrowers die huis binnegedring; die egpaar is aangehou en aangerand terwyl hulle besitting gevat is.
“Die groot probleem is hulle kruip weg in die lang gras.”
Die egpaar wil graag die GPF, Devin Neuwenhuisen, die brandweer en hul dogter bedank vir al die hulp.
Engelbrecht sê hy het vroeër jare so meter van sy muur af skoongemaak en voorbrand gedoen, maar dit het deesdae net te gevaarlik geraak vir hom om dit self te doen.

Sektor 7 se patrolliekoördineerder, Vicki Vermaak, sê hulle is genader is om te help met die oop erf in Leadwoodstraat.
“Die oplossing in dié geval was maklik, die gras en bosse moes kort gesny word sodat niemand daar kan wegkruip nie. Ek het ‘n paar wonderlike mense geskakel en binne ‘n dag was ons span bevestig.”

Altesaam 13 mense het opgedaag om te help – Piquand Sekuriteit, Friends of Emergency Services, Devin en die Sektor 7 GPF.
Vermaak verduidelik dat aan Bellstraat se kant af was die gras baie lank en het op plekke tot skouerhoogte gestaan. Aan die Leadwood-kant was daar baie bosse, maar in die middel kon mens sien daar het haweloses geslaap – dit het soos ‘n ‘nes’ gelyk.

Sewe mense het die gras gesny, terwyl die res van hulle rommel opgetel en bosse gesnoei het.
“Ons het met toestemming van die brandweer en met voorsorgmaatreëls ‘n hoop takke en gras verbrand.”
Binne in die hawelose woning het hulle ‘n beursie, twee beloningskaarte en ‘n dameskleedspeld gevind.

“Die belongingskaarte was een van Checkers en een van Clicks. Dis nie die soort ding wat ons gereeld sien by die hawelose nie.”
Vermaak sê regoor Mogale City is daar probleemerwe soos dié een en dat dit iets is wat die Friends of Emergency Services gereeld aanpak.

“Vele hande maak ligte werk,” voeg Vermaak by en verduidelik dat hul projekte op gemeenskapsgroepe versprei word. Indien iemand betrokke wil raak, kan hulle Friends of Emergency Services skakel by 082 609 9526 of ‘n epos stuur aan friendsofemergencyservices@gmail.com.
“Ons is altyd op soek na nog patrolleerders om deel te word van ons span. As jy belangstel, skakel ons kantoor by
072 425 0121 of info@sector7cpf.co.za.

“Ek wil ook net noem dat dit van uiterste belang is dat die gemeenskap nie vir die haweloses geld of donasies van enige items of kos gee nie. Ondersteun asseblief eerder ‘n organisasie wat hulle help om van die straat af kom. Die haweloses verkoop die klere of kos. Dit lok onwelkome karakters en gedrag na ons buurt.

“Daar is soms spuitnaalde in die velde en op sypaadjies. Dit maak ook die werk wat ons doen ook baie gevaarlik waarneer ons skoonmaak. Aan die einde van die dag kan ons nie staatmaak op die munisipaliteit of die staat om ons te help nie. Ons moet self optree en werk vir die tipe gemeeskap wat ons wil hê,” het Vermaak afgesluit.
