Huis Nehemia nou geregistreer en reg om kwesbare kinders in te neem
Daar is uiteindelik 'n nuwe plek waar die mees kwesbaarste kinders van dorp gehuisves kan word.
Na byna twee jaar se gesukkel kan die Cross Connect Community Outreach (CCCO) se Huis Nehemia kwesbare kinders inneem en vir hulle die liefde en stabiliteit gee wat hulle verdien.
Die span van CCCO het vir 18 maande gesukkel om Huis Nehemia, ‘n plek van veiligheid, te laat registreer. Die huis bied skuiling en versorging vir kinders wat van hul ouers af weggeneem of verwerp is. Toe die huis oorspronklik oopgemaak het, was daar kinders in hul sorg, maar die kinders moes teruggeplaas word in hul ouers se sorg omdat die organisasie se registrasie nog nie deur was nie. Hulle werk nou om hiérdie kinders terug te bring Huis Nehemia toe.
• Lees ook: Golfing around for a good cause
CCCO-stigter Kyle Tolman glo die huis sal teen einde Julie vol wees.
Die huis kan 30 kinders tussen die ouderdom van drie en 13 akkomodeer. Twintig van hierdie plekke is permanente plasings terwyl 10 tydelike is. Op die stadium huisves hulle net jonger kinders, maar daar is planne om nog ‘n huis te koop waar ouer kinders gehuisves sal word. Daarvoor gaan hulle eers die nodige fondse bymekaar moet maak.
“Ons is opgewonde,” het hy gesê en bygevoeg dat hulle geen staatsbefondsing ontvang nie. Wanneer die huis tot kapasiteit is sal dit hulle R300 000 per maand kos om aan die gang te hou. Dit werk uit op R10 000 per kind per maand en sluit kos, klere, skoolgelde en meer in.
Hy het vertel dat hulle ‘n veilige omgewing vir die kinders wil skep en hulle so tuis as moontlik wil laat voel omdat hulle nie juis daaraan gewoond is nie.
• Lees ook: ‘n Gholfdag vir ‘n goeie doel
Hy sê dat hulle nie altyd kinders van hulle ouers wil wegneem nie en help ouers om na hul eie kinders om te sien. Hy weet dat dit nie altyd moontlik vir die ouers is nie, maar noem dat dit die CCCO se doelwit is om families te help die siklus van armoede en sukkel te breek en te verseker dat ‘n nuwe en gesonde siklus in daardie familie kan begin.
Indien hulle wel moet intree, sal dit ideaal wees om hierdie kinders vanuit die welsynstelsel te laat aanneem of in pleegsorg te plaas.
“Daar is ‘n groot tekort vir dit. Maar as hulle nie aangeneem of in pleegsorg geplaas word nie, is daar darem ‘n plekkie vir hulle by ons. Aanneming is ‘n moeilike proses, maar op die ou einde glo ons dit is ‘n antwoord. Al begin mens net met pleegsorg. Daar is ‘n groot tekort in Krugersdorp vir pleegsorg ouers.”
• Lees ook: Nehemiah wil groei, met hulp
Hy het verduidelik dat enigiemand ‘n pleegouer kan word en dat jy na jou naaste welsyn kan gaan om aansoek te doen. CCCO het ook programme wat hulle aanbied vir pleegouers waar hulle help met kos, klere en berading.
Verder, vra hulle graag dat die gemeenskap help om ‘n kind te borg. Selfs al kan hulle nie die volle bedrag van R10 000 per maand borg nie, sal enige hulp of bedrag ‘n verskil maak.
Kyle noem dat hulle basies alles benodig wat ‘n doodgewone familie as noodsaaklik sal beskou. Hul sal beslis enige gebruikte items verwelkom, maar nie enige gebreekte speelgoed of stukkende klere nie.
Jy kan die CCCO kontak by 010 100 0075 of hulle e-pos by info@crossconnect.co.za. Alternatief kan jy hulle besoek te Shannonstraat 81 in Noordheuwel. Vir meer oor die kinders, besoek gerus hul Facebook-blad Cross Connect Community Outreach.
