Local news

Plaaslike organisasies gee haweloses ‘n warm bed vir die nag

Danksy die goedhartigheid van die gemeenskap en organisasies wat hulle deure oopgemaak het, kon haweloses warm slaap op die koudste nagte.

Die onlangse kouefront het almal aan die bibber en plaaslike organisasies het ingespring om die dorp se haweloses te help uit die kloue van die koue te kom.

Grace House het van Sondagaand af hul deure ekstra groter vir die haweloses van Krugersdorp oopgemaak.

Met temperature wat tot in die minusse geval het, het dié organisasie besluit om hulle gereelde bedrag van R25 per nag vir ‘n hawelose om hul fasiliteit te gebruik, te laat vaar. Hulle het besluit om ekstra slaapplek beskikbaar te stel sodat soveel moontlik haweloses uit die bitterkoue kon kom.

Die hele gedoente het begin toe raadslid Mark Trump vir Hendrik van Rooyen van die organisasie gekontak het om te vra of hulle meer mense sal kan inneem hierdie week. Van Rooyen het verduidelik dat hulle Sondagaand reeds 18 mense ingeneem het. Van daar het lede van verskeie gemeenskapspolisiëringsforums rondgery en haweloses gevra of hulle ‘n warm plek nodig gehad het om te slaap.

Elke persoon wat daar kom slaap het, het ‘n warm bord kos, ‘n stort, ‘n warm bed, en ontbyt die volgende oggend ontvang.

Volgens Van Rooyen was daar egter steeds mense wat eerder op straat wou bly omdat hulle bang was hul besittings word gesteel.

Maandag was daar ook ‘n groot pot sop gemaak en vir die haweloses uitgedeel. Hulle het van die sop vir hul gereelde inwoners gegee en die res by die tentekamp op die Krugersdorp-Wes tennisbane gaan uitdeel. Die span het ook komberse uitgedeel.

Die Tower of Life manskuiling het ook ‘n toename van besoekers gesien. Janet Jordaan van die skuiling het vertel dat hulle oor die algemeen so 85 mans het wat by hulle kom slaap in die aande, maar Sondagaand het hulle 91 mense daar gehad.

Sy het vertel dat die inwoners van Krugersdorp gereeld hul harte oopmaak en donasies maak om die R25 per persoon te dek sodat haweloses by hulle kan kom slaap, stort en heerlik eet. Sy het verduidelik dat dié fooi baie belangrik is omdat dit hulle uitgawes dek.

Indien jy vir Grace House wil help met kos, komberse of finansiële donasies kan jy vir Van Rooyen by 061 355 6101 skakel. Die publiek is ook welkom om R25 donasies by die Tower of Life te maak. Hulle aanvaar kontant, elektroniese oorplasings en het kaartfasiliteite. Jy kan ook ‘n boekie met koopbewyse koop en dit vir ‘n hawelose gee om te gebruik wanneer hulle daar wil gaan slaap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button