Meisies voer honderde in nood in Krugersdorp-Wes
Bakke en bakke boontjiesop is onlangs vir die Krugersdorp-Wes gemeenskap uitgedeel.
Twee jong meisies het op Mandeladag hul harte oopgemaak vir honderde gemeenskapslede in nood as deel van hul 67 minute van teruggee ter ere van Nelson Mandela.
Vir Azalea Hood was dié nie haar eerste gemeenskapsprojek nie. Die jong meisie pak gereeld projekte aan en het Leane van Niekerk geinspireer om by haar aangesluit. Saam het die twee gesorg vir vreeslik baie boontjiesop wat vir die omgewing se minderbevoorregtes uitgedeel is.

Die sop is gemaak deur verskeie weldoeners, onder andere Piet Bekker, die stigter van die Burgershoop-voedingskema. Die wat wou sop hê moes net hul eie bakkie of blikkie bring en het selfs ‘n sny brood of twee saam met die sop gekry. Die span wat die sop gemaak het het reeds van 20:00 op 17 Julie daarmee begin.
Azalea het ook pakkies skyfies en boeke saam geneem om vir die kinders in die ry uit te deel.

Sy het gesê dat hulle op die projek besluit het om die mense wat nie kos het nie te help en Leane het bygevoeg dat hulle nie wil hê mense moet honger gaan slaap nie.
Die twee het gedeel dat wanneer jy jou hart oopmaak, en goeie goed vir ander doen, kom goeie goed weer terug na jou toe.
Lede van die Burgershoop-voedingskema het ook klere uit gedeel vir die gemeenskap.
