Monnas-broers gekies vir SA in Judo
Christo en Johan Collins, broers en leerders van Hoërskool Monument, is op almal se lippe nadat hulle gekies is om Suid-Afrika by die Statebondspele te verteenwoordig.
Die Collins-boeties van Hoërskool Monument weet beslis wat hulle doen as dit by vegkuns kom en was albei onlangs gekies om aan die Suid-Afrikaanse Judo Ope deel te neem.
Johan Collins, wat nou in graad 11 is, en sy boetie Christo, graad agt, het van 27 tot 30 Julie aan die SA Judo Ope in Gqeberha uitgeblink. Tydens die toernooi het Johan ‘n eerste plek behaal en ‘n goue medalje ingepalm terwyl Christo ‘n derde plek en brons medalje verower het. Beide broers het ook hul Junior Protea Kleure verwerf.

Die broers is ook albei gekies om Suid-Afrika by die Statebondspele in Gqeberha te gaan verteenwoordig. Johan was boonop gekies om Suid-Afrika by die 2023 Kadet Afrika Spele in Madagaskar te verteenwoordig.
