Local newsUpdate

So het ongeluk-slagoffer se lewe drasties verander

Phillip Nel sterk steeds aan nadat hy in 'n brandende voertuig vasgekeer is 'n jaar gelede.

‘n Jaar na die ernstige ongeluk waarin Phillip Nel se lewe onherroeplik verander het, probeer hy steeds om terug te keer na sy normale lewe.

Op 13 Augustus 2022 was die toé 21-jarige Phillip Nel en sy vriend, Charl Barnes, op pad huis toe op Robert Broomrylaan, toe ‘n motoris hulle getref het. Barnes kon uit die motor kom maar Nel was vasgekeer en die motor het aan die brand geslaan. Hy het sy vriend uit die motor probeer help, maar het sy bewussyn verloor. Met die hulp van nooddienste en goedhartige Samaritane, kon hulle die vuur blus en Nel uit die motor sny.

Phillip Nel se lewe het drasties verander na ‘n ongeluk een jaar gelede.

Maar ‘n jaar later moet Nel steeds behandeling vir die beserings kry wat hy daardie aand opgedoen het. René Groenewald, Nel se ma, het ‘n jaar terug aan die Krugersdorp News vertel dat sy nie weet wat sy sou doen as sy daardie aand haar kind verloor het nie. Nel het ‘n gebreekte elmboog en voet asook ‘n gesnyde lip opgedoen en lei ook aan korttermyn-geheueverlies, terwyl Barnes ‘n gebreekte sleutelbeen, gebreekte enkel en ‘n lelike sny op sy ooglid gehad het. Albei was op ‘n stadium in die hoësorgeenheid in hospitaal en het operasies ondergaan.

Phillip Nel het steeds pyn in sy voet na die ongeluk.

Groenewald sê Phillip is weer terug universiteit toe maar dit bly steeds ‘n uitdaging omdat hy baie moet stap en geweldige pyn in sy voet ervaar. Sy ligamente het nog nie geheg nie en daar is steeds beenskerwe wat verwyder moet word. Die plate en skroewe in sy elmboog moet boonop ook nog verwyder word en sy enkel se ligamente moet tydens ‘n operasie geheg word.

• Also read: Late night crash on Robert Broom leaves two seriously injured

Nel het ook fisioterapie gekry en is na ‘n biokinetikus verwys, maar die familie kan dit nie bekostig nie. Tydens die ongeluk het die jong manne nie ‘n mediese fonds gehad nie en is na die Sunshine Hospitaal in Benoni geneem waar die Padongelukfonds ingespring en met hul behandeling gehelp het.

Groenewald vertel verder dat hulle nie al die operasies kon afhandel nie omdat hulle nie weet waar hulle staan met die Padongelukfonds nie. Die familie het ‘n brief van Nel se chirurg wat verduidelik watter prosedures hy moet ondergaan.

“Phillip onthou steeds niks van die ongeluk nie en moet oor ses maande ‘n neurochirurg sien om te bepaal watter impak sy kopbeserings gehad het op sy lewe en die pad vorentoe. Sy geheueverlies sal ook dan na gekyk word,” het Groenewald verduidelik.

Sy het vertel dat Nel geseënd voel dat sy lewe gespaar is en dankbaar is vir almal wat steeds gereeld vra hoe dit met hom gaan.

“Hy kan nie langafstande loop sonder dat sy voet styf en seer raak nie maar ons hoop dat die nodige operasies dit ook sal kan regmaak.”

Sy het bygevoeg dat sy lewe onherroeplik verander het en hy altyd in pyn of op medikasie is. Hy is ook nie meer so aktief soos voor die ongeluk nie.

Nel het gesê dat hy wil hê ander mense moet weet dat die lewe skielik en drasties kan verander.

“Daar is baie dinge wat ek graag sou wou doen wat net nie fisies meer moontlik vir my is nie. Maar ek bly dankbaar vir die mense wat oor my pad gekom en my gehelp het. Die paramedici en dokters by hospitale ook. Ek kan ongelukkig net onthou wat almal my vertel het. Ek kan nie enige iets van die ongeluk self onthou nie.”

Die letsel op Phillip Nel se elmboog na die ongeluk.

Hy het vertel dat hy dit nie sou maak sonder die finansiële steun van ‘n vriend nie.

“Ek is dankbaar vir die ondersteuning van my vriende en dat Charl ook oukei is. Ek sou wel graag vir ander wou sê om ‘n toep soos 360 te gebruik sodat jou gesin kan sien waar jy is want dit wys ook as daar ‘n impak soos ‘n ongeluk is. En om ‘n brandblusser in jou kattebak te hou.”

Die familie het inussen ‘n BacknBuddy-blad vir Nel begin om te help betaal aan sy mediese uitgawes. Jy kan die blad besoek by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/phillip-nel-surgery-funds.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button