Local news

Besigheidsvrou stig projek vir mense wat swaarkry

Leonie Posthumus, 'n plaaslike besigheidseienaar, het 'n projek begin om hardwerkende mense wat sukkel, te help.

Leonie Posthumus ‘n besigheidsvrou van Krugersdorp-Noord en iemand met ‘n baie groot hart.

Net soos haar projek se naam sê, Helende Harte, wil sy vanjaar mense wat sukkel en swaarkry weer help om op hul voete te kom. Sy het reeds al ‘n paar verskillende projekte aangepak om dit reg te kry – die mees onlangse waar sy mense op straat gehelp het om ‘n veilige plek te kry om te slaap.

Vierdestraat voor die skoonmaak.

Sy het vertel dat hulle graag Vierdestraat in Krugersdorp-Noord, waar haar besigheid is, wou skoonmaak. Daar was baie haweloses wat in die straat geslaap en gebly het en dit het die besighede begin affekteer. Boonop was dit ook nie die beste en veiligste plek vir die mense om te bly nie. Toe daar gesê is dat die mense na ‘n veiliger plek geskuif moet word het sy ingespring en probeer help.

Vierdestraat word skoongemaak.

Die haweloses is twee weke kennisgewing gegee en Posthumus het haar salon se deure vir hul oopgemaak sodat hulle elke dag by haar kan water kry om te was. Sy het ook baie van die mense gehelp met tente sodat hulle in Krugersdorp-Wes kan gaan bly. Baie van die mense wou nie soontoe gaan nie en is na ander skuilings in die dorp.
Maar Posthumus verduidelik dat sy die haweloses op ‘n ander manier ook wil help deur haar projek. In plaas van net geld of kos gee, vra hulle die behoeftiges wat hulle nodig het en dan voorsien hulle dit. Op die stadium het hulle iemand wat graag na ‘n rehabilitasie sentrum wil gaan maar om dit deur die staat te doen gaan tussen ses en twaalf maande neem.

Hoe Vierdestraat nou lyk.

“Ek wil die publiek ook vra om die Sassa-pensioenarisse en mense wat werk [en ‘n minimale inkomste verdien] steeds te help.”

Posthumus wil ook graag die 20-jarige tweelingsussies Jolanda en Rachelle Munnik help. Die sussies is op die ouderdom van agt gediagnoseer met Stargardt se siekte, ‘n seldsame genetiese oogsiekte wat gebeur wanneer vetterige materiaal op die makula opbou – die klein deel van die retina wat nodig is vir skerp, sentrale visie. Die susters het egter al 80% van hul sig verloor en sal mettertyd heeltemal blind raak. Op die stadium is daar geen behandeling hiervoor nie maar hul ma het gelees dat daar spesiale brille oorsee is wat hul kan help om beter te sien. Die koste hiervan is ongelukkig bitter duur.

Vierdestraat na dit skoon gemaak is.

Indien enigiemand weet van dié genetiese siekte of waar die familie hulp kan kry, skakel vir Posthumus by 082 350 9649.

Behalwe vir hierdie projekte het hulle ook onlangs baadjies, lekkers en skoolbenodighede vir graad R en graad RR leerders uitgedeel.

Enige donasies van klere en ander benodighede is ook welkom. Hulle vat egter nie kontantdonasies nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button