Mullies wys hul spelvernuf vir ‘n goeie doel
Laerskool Muldersdrif wou bietjie hul leerders se liefde vir lees aanwakker deur 'n massiewe spelkompetisie te loods.
Leerders van Laerskool Muldersdrif het onlangs uitmuntende spelvernuf gewys toe hulle aan die skool se Spelathon deelgeneem het. Dit was ook vir ‘n goeie doel en om sommer ‘n paar rand vir die skool in te samel.
Tersia Pretorius het vertel dat hul skool daarna streef om ‘n liefde vir lees en spel aan te wakker. Die hele skool kon aan die kompetisie deelneem en daar was ook uitdun rondtes gewees.
Die leerders het elkeen ‘n borgvorm ontvang waar hul ouers of familie hul kon borg vir elke woord wat hulle reg spel tydens ‘n speltoets. Die graad 3–7 leerders het in die rekenaarleessentrum op die rekenaar die toets voltooi en sommer terselfdertyd sleutebord- en rekenaarvaardighede aangeleer. Die graad R–2 leerders het die toets in hul boeke afgelê.

Daar was groot pryse op die spel in die verskillende afdelings.
Op 21 Augustus het die Spelathon afgesluit met ‘n prysuitdeling aangesien daar altesaam R130 000 ingesamel is. Daar was 168 leerders wat elk volpunte gekry het, en wat ook ‘n R100 geskenkbewys van Bargain Books ontvang het. Die leerders wat die meeste kontant ingesamel het, het ook elkeen ‘n kontantprys gewen.
In die graad R–3 spelgroep het Sevannah Bekker derde geëindig met Tianka Human in die tweede plek en Kayleigh Cherry as die wenner. In die graad 4–7 groep het Kegan Murphy derde gekom, Kiara Rossouw tweede en Megan van den Berg eerste.

Die graad sewe leerders wat die meeste punte behaal het deel die John Dory wisseltrofee, hulle kry ook elkeen ‘n klein trofee om te hou. Die leerders is Ethan Botha, JD de Beer, Anika Janse van Rensburg, Dante Klaaste, Inge Conradie, Kian van der Merwe, Leane Wessels, Jamie-lee Hoon, Juan Marais, Morgan Payne en Renchke Pienaar.
Die klas wat die meeste geld ingesamel het, sowel as die graad 2.3 en graad 4.3 klasse, gaan op 20 September lekker by Wimpy in Cradlestone Mall gaan eet. Die klas wat die meeste punte behaal het was die graad 3.3 klas met hul 94% en ook die graad 5.1 en 5.2 klasse wat elk 90% behaal het. Dié klasse kan gewone klere skool toe dra vir ‘n dag.
