Norie pronk in Top-20 van ‘Maak My ‘n Miljoenêr’-kompetisie
Hoërskool Noordheuwel hou duim vas vir een van hul leerders se toekoms as 'n vooraanstaande entrepreneur en haar sukses in die 'Maak My 'n Miljoenêr' Entrepreneur van die Jaar-kompetisie!
Een van Hoërskool Noordheuwel se innoverende entrepreneurs, Quinette Roosenschoon, het haar plek in die Top-20 van die ‘Maak My ‘n Miljoenêr’ Entrepreneur van die Jaar-kompetisie verower.
Tydens die Brandbank-rondte van die reeks, wat op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai word, was die Top-50 entrepreneurs gedurende die winter skoolvakansie getoets. By Brandbank, wat ‘n warm eliminasie rondte is, is hulle ondernemingsvaardighede tot die uiterste beproef. Die jong entrepreneurs moes uitdagende vrae van beoordelaars soos Albert van Wyk, Marcius van Antwerp, Matthew Blauw, iHope – die TikTok-sensasie, Roedolf van der Westhuizen, Hendri Slabbert, Shaun Burr-Dixon en Jaco Grobbelaar beantwoord. Hierdie beoordelaars het elkeen indrukwekkende ervaringe in die besigheidswêreld en was moeilik om te beïndruk.
Quinette het egter uitgeblink op die Brandbank en is met trots as deel van die Top-20 verkies. Die Top-20 tekkel toe ‘n opwindende week van uitdagings tydens die skoolvakansie.
Die uitdagingsrondtes is by verskeie besighede op verskillende plekke aangebied, waar die Top-20 uitgedaag is met regte wêreld besigheids-scenario’s. Hier is hul ondernemingsvaardighede op die proef gestel met vier intense uitdagings by Bovest Wealth Management, Akademia, Terugploeg van Atterbury Trust en ATKV Buffelspoort, wat die toneel geskep het vir hierdie opkomende entrepreneurs om hul talente te bewys.
Quinette se prestasie om deel van die Top-20 te wees is op sigself ‘n ongelooflike mylpaal, want sy is uitgesoek uit ‘n massiewe groep van 42 000 hoërskoolleerders en 144 ander hoërskool-entrepreneurs. Sy is nou net ‘n tree weg om die Maak My ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar 2023 trofee te wen.
Vir verdere inligting oor hierdie opwindende kompetisie, besoek gerus www.millionaireat22.com. Moenie vergeet om na die vorige jaar se gewilde reeks op https://www.youtube.com/@millionaireat22 te kyk nie. Jy kan hierdie jaar se reeks op Via elke Woensdagaand om 19:30 kyk.
