Man wag meer as twee dae in ‘n stoel by ongevalle
Wat sal jy doen as die persoon wie jy lief het vir amper drie dae in 'n stoel in ongevalle moet wag vir behandeling? Danksy goedhartige raadslede het Piet Olivier die hulp gekry wat hy nodig het.
Terwyl Lourens Gouws, ‘n Vryheidsfront Plus raadslid, een aand deur sy sosiale media gegaan het, het hy die hartverskeurende plasing van Margaret Olivier gesien. In haar plasing het Margaret gesê haar man, Piet, wag al vir langer as twee dae in die ongevalle van ‘n staatshospitaal vir behandeling.
Piet en Margaret Olivier is bekende gesigte in die dorp. Hulle is die tannie en oom wat gereeld mussies by verskeie verkeersligte in beide Krugersdorp en Roodepoort verkoop. Die lewe is nie altyd maklik vir die paartjie nie; Margaret is in ‘n rolstoel en Piet het kanker.
Op 17 Augustus het Margaret met die 70-jarige Piet na die hospitaal gehaas omdat hy borsprobleme ondervind het. Nadat Piet vir twee dae in ‘n stoel in ongevalle gesit en wag het vir behandeling, het Margaret haarself na sosiale media gewend.

“My Pieta is opgeneem in die hospitaal, uiteindelik, die omstandighede is nie goed nie. Daar is nie beddens nie, hy is al heeldag op daardie stoel en sal die nag ook daarin deurbring. Bid hy kry vinnig ‘n bed,” het die plasing gelees.
Margaret het verduidelik dat Piet al van begin Maart siek is en dat hy beter word, maar dan weer verswak. Dié keer was dit erger as voorheen en moes sy met hom hospitaal toe jaag.
Gouws ken die Oliviers al jare en het dadelik besluit hy moet help. Raadslede Amanda de Lange en Lourens Gouws is na die hospitaal waar Piet teen daardie tyd al in ‘n bed gelê het met suurstof maar was steeds nie deur ‘n dokter besoek of in ‘n kamer geplaas nie.
“Die VF Plus het die waarnemende hospitaalbestuurder besoek wat aangedui het dat die hospitaal ‘n tekort aan personeel het. Die situasie vererger ook wanneer besoeke aan ongevalle toeneem,” het De Lange in ‘n persverklaring verduidelik.

Na die besoek het die waarnemende hospitaalbestuurder daarna omgesien dat Piet deur dokters besoek word en medisyne ontvang terwyl hy steeds in ongevalle gelê en wag het. Die volgende dag was daar uiteindelik ‘n bed vir hom beskikbaar.
Piet is a Transnet-pensioenaris en die klein pensioen wat die paartjie ontvang is nie genoeg om te oorleef nie. Daarom doen Margaret naald- en breiwerk wat hul by verkeersligte verkoop. Hulle het in die verlede ook gebak, maar die krag het vir hulle te duur geword en Margaret se gesondheid is ook nie goed nie nadat haar kanker teruggekom het.

“Ons sukkel regtig. Ek weet nie meer wat om te doen nie maar ons sal aangaan,” het sy aan die Krugersdorp News gesê.
Dit gaan ook al bietjie beter met Piet. Hy is reeds ontslaan en by die huis.
“Ek wil graag die VF Plus bedank dat hulle gesorg het dat hy ‘n bed en behandeling kry.”
“Die VF Plus is bewus daarvan dat staatshospitale oor die algemeen worstel met personeeluitdagings, maar sal nie toelaat dat ernstige siek pasiënte benadeel word nie,” het De Lange gesê.
Indien iemand die paartjie kan help, kontak News-joernalis Natasha Pretorius by natashap@caxton.co.za.
