Local news

Gee jou verskaffer vir jou die regte gas?

Die ontruiming- en brandweeroefening van 'n plaaslike gasverskaffer het die lig geskyn op die gevare van onwettige gasverskaffers.

Of dit nou ‘n kragopwekker, gasstoof, gasgeiser of net ‘n gasbottel is – gas is nou deel van meeste van ons se lewens weens beurtkrag.

Maar het jy al ooit gaan wonder of jy die regte gas kry wanneer jy jou gasbottels laat hervul?

Die span van MIA Gas Supplies het tydens ‘n besige oggend van 30 Augustus besef die gemeenskap moet teen onwettige gasverskaffers gewaarsku word en het besluit om ‘n ontruiming en brandoefening by hul perseel in Commissionerstraat uit te voer. Nadat almal uit die perseel ontruim is, is die brandweer ook ontbied en was binne vyf minute op die toneel.

Die brandweerspan wat gereageer het. Fotos: Verskaf.

Vir hulle het hierdie oefening oor brandveiligheidvereistes gegaan, maar die grootste aansporing agter die oefening was om hul personeel, en so ook die publiek, bewus te maak van die gevaar van gas en hoe skadelik dit kan wees indien ‘n persoon van onwettige verskaffers wat gemengde vloeibare petroleumgas (LPG) verkoop, gebruik maak.

Brandweerpersoneel gesels met die personeel.

Volgens MIA word daar vermoed dat hierdie verskaffers die gas met ander stowwe meng om dit goedkoper te maak.

Krugersdorp is vol geregistreerde verskaffers wat die reëls en regulasies volg van petroleumgas en die hervul en verkoop daarvan. Volgens MIA lig onwettige verskaffers nie hul kliënte in oor die gevare wat gepaard gaan met wanneer hulle hul bottels met ‘goedkoop’ en gemengde gas volmaak nie.

Die gasbottels is beveilig.

Hulle het in ‘n persverklaring gesê dat hulle daagliks die publiek help met silinders/ bottels wat lek of herstel moet word asook gastoerusting wat verwoes word deur vuil gas.

“Gasbottels word nie by die onwettige verskaffers getoets nie en ‘n foutiewe silinder/ bottel of ‘n geroeste of ingeduikte bottel mag glad nie hervul word nie. Maar steeds word beskadigde bottels by onwettige gasverskaffers gevul en plaas dit die koper se lewe en welstand in groot gevaar,” het die verklaring gesê.

Die gebou word deeglik ondersoek.

Dieselfde geld vir oonde, stowe, braaiers en verwarmers wat met gas werk wat nie nagegaan word, of nie na opgeleide mense geneem word, om reggemaak te word nie.

Vir meer inligting of navrae word die publiek aangeraai om die LPG Assosiasie te kontak by info@lpgas.co.za of 011 886 9702. Alternatief kan Oryx Energies South Africa ook gekontak word by customercare@oryxenergies.com of 0860 222 574.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button