Kenmare-egpaar vier hul 50ste huweliksherdenking
Die 't Lam egpaar het 50 jaar se stories en herinneringe saam gemaak en op 15 September vier hul 50 goeie jare as 'n getroude paartjie.
Bert en Babs ‘t Lam het al ‘n hele leeftyd saam agter die rug en selfs 50 jaar na hul troudag is die twee nog smoorverlief.
Die 73-jarige Babs het vir Bert (nou 75) deur haar sussie ontmoet. Marie en Bert het saam gewerk by die Roodepoort poskantoor en het een aand vir Bert oorgenooi vir ‘n kuier. Babs en Bert het mekaar se geselskap so baie geniet dat Bert daarna gereeld kom draai het.
Op hulle eerste ontmoeting wou die twee Sterlig Inry-teater toe gaan maar hul motor het onklaar geraak en die twee het skoon die hele film gemis. Babs is nog haar hele lewe ‘n Krugersdorper en het in Krugersdorp-Wes grootgeword. Bert is in Nederland gebore en het op die ouderdom van vyf saam sy familie Suid-Afrika toe getrek en in Kenmare gebly. Babs en Bert bly nou steeds in Kenmare.
Wat die twee se huweliksherdenking so spesiaal maak is dat dit reg in die middel van hul verjaarsdae val. Babs verjaar op 14 September en Bert op 16 September, met hul herdenking op 15 September. Hulle is in 1973 getroud.
Saam het hulle vyf kinders gehad, Jaco (49), Bertie (48), Andre (45), Annie (43) en Riaan wie ongelukkig in 1997 oorlede is. Hulle spog ook met ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Babs het vir 30 jaar by die poskantoor gewerk totdat sy in 2015 afgetree het terwyl Bert vir 33 jaar ‘n poskantoorbestuurder gewerk het tot en met sy aftrede in 2013 voor dit het hy as ‘n brandweerman ook gewerk.
Bert was ‘n trotse brandweerman by die Krugersdorp brandweerstasie en omdat hy so groot passie vir hierdie beroep gehad het het die paartjie besluit om ‘n brandweer troue te hou. Babs is in die brandweerwa vervoer van die huis tot by die kerk en al die ander brandweerpersoneel het op die wa gestaan en kyk terwyl hulle kerk toe ry.
Deesdae hou Babs haar hande besig met hekelwerk en Bert hou daarvan om mondfluitjie te speel. Saam fokus hulle op hul familie en geniet al hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders terdeë.
Die paartjie vertel dat om ‘n lang en gelukkige huwelik te hê moet jy lief wees vir mekaar, respek toon teenoor mekaar toon en altyd kommunikeer. Maar die belangrikste ding is om jou huwelik op geloof te baseer met God in die middel.
“Dit is Sy genade wat mens dra,” het die paartjie beaam.
Vandag nog waardeer Babs haar man se sagmoedigheid en sin vir humor terwyl Bert ‘n voorstaander van Babs se lekker kos is en waardeer haar vriendelikheid en geduld.
Na 50 jaar kan mens hul kenners in die veld noem en as daar raad is wat hulle vir pasgetroudes kan gee sal dit wees om nie maklik op te gee nie, ‘maak nie saak hoe moeilik die omstandighede is nie’.
“Om deur jou probleme te werk sal jou huwelik versterk en om kommunikasie te behou and wanneer jou huwelik op Jesus gebou is kan dit nie op die rotse loop nie.”
Caitlin Hake, hul kleindogter, het vertel dat haar ouma en oupa vir hulle goeie rolmodelle vir hul eie huwelike is.
“Hulle is sulke liefdevolle mense en sal enigiets doen vir hulle medemens. Ons is baie lief vir hulle en kan nie ons lewe sonder hulle indink nie.”
