Local news

‘n Klerekas vir minderbevoorregte prinsesse

Met meer as 800 rokke om van te kies kan enige matriekmeisie soos 'n prinses voel danksy dié organisasie.

Vir die afgelope agt jaar help Madre Botha meisies en vroue om hul beste voetjie voor te sit by belangrike gebeurtenisse en funksies. Sy het onlangs haar meer as 800 rokke na Prinses vir ‘n Dag se nuwe kantore geskuif.

Die organisasie is in 2015 gestig en help om deftige uitrustings soos rokke en pakke uit te leen aan mense wat dit nie kan bekostig om te koop of huur nie. Aan die begin het Madre matriekafskeidrokke ook uitverhuur, sy was selfs vir baie jare ‘n model en het van haar eie rokke beskikbaar gestel. Maar met tyd het die projek so gegroei dat sy nou ook trourokke, pakke vir mans en seuns, skoene en selfs werksklere vir wanneer iemand ‘n onderhoud het, kan verskaf.

Van die mooi skoene wat sy beskikbaar het.

Sy het onlangs aan die Krugersdorp News vertel dat sy nou ‘n spesiale kantoor het waar mense haar tydens werksure kan besoek. Hulle moet net by The Cradle of Hope, Stegmannstraat 106, Krugersdorp-Wes gaan aanklop en ‘n afspraak maak.

Om 800 rokke te hê klink dalk baie maar Madre het verduidelik dat sy juis afgeskaal het.

“Ek haal die rokke wat nie meer in styl is nie uit en deel dit dan by die Cradle uit. Van die klere gaan ook vir skole wat dit gebruik vir vertonings en konserte.”

Hierdie jaar het sy reeds ‘n hele paar leerders van onder andere Hoërskool Bastion en Lantern Skool gehelp en vertel dat pakke vir seuns veral in aanvraag is.

“Dit is duur om ‘n pak te huur en ek kry veral navraag vir kleiner geboude seuns.”

Prinses vir ‘n Dag het uitrustings vir oud en jonk.

Indien jy wil weet wat nou in die mode is het Madre vertel dat sy veral blou en grys pakke uitleen asook koningsblou, swart, silwer en bruinrooi rokke verskaf.

Om by haar ‘n uitrusting te leen kan jy net ‘n afspraak maak. Tydens jou besoek kies en pas jy jou uitrusting. Al wat Madra vra is dat jy of ‘n donasie vir die Cradle of Hope in hul rekening maak of nie-bederfbare voedsel skenk. Na die geleentheid gee jy net weer die uitrusting terug en Madre maak seker dat dit gewas en gestoom word.

Sy sê ook nooit nee vir donasies nie en het verduidelik dat sy veral deftige manskoene, handsakke, juwele, dameskoene, skoenbokse en hangers benodig. Sy is ook opsoek na korporatiewe drag sodat sy mense kan help om op hul beste te lyk vir onderhoude.

Haar klerekas is oop tussen 08:00 en 17:00, Maandae tot Vrydae, asook tussen 08:00 en 13:00 op Saterdae. Skakel haar gerus by 078 676 9760.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button