Meer as 500 teddiebere ingesamel vir kerk-projek
Wat oorspronklik as net 'n Sondagskool les begin het, het vinnig in 'n simbool van liefde en omgee ontaard en insameling van meer as 500 teddiebere.
Om hul kinderbediening te leer van evangelisasie wou die NG Suiderlig Gemeente vir elke kind ‘n gehekelde teddiebeer gee. Groot was hul verbasing to meer as 500 bere instroom van so ver as die Oos-Kaap.
Carien Els, van die kerk, vertel dat hul tema by hul kinderbediening vir die kwartaal oor evangelisasie handel.
“Ons wou graag die kwartaal afsluit op ‘n hoogtepunt deur vir al die kinders [babas tot graad drie] ‘n gebreide of gehekelde beertjie te gee,” het sy vertel.

Elke beertjie het ‘n lappie gekry waarop die woorde ‘Jesus het jou lief – Johannes 3:16’ staan. Die beertjies het ook elkeen ‘n rugsakkie gehad met ‘n brief van die persoon wat die beer gebrei of gehekel het.
Die projek om die beertjies te brei het op 30 Julie afgeskop en die beertjies moes teen 10 September ingehandig word. Oorspronklik het hulle ‘n beroep gedoen op hul gemeentelede om te help brei en hekel.
“Maar daarna het dit baie wyd uitgekring. Baie mense wat nie eers in ons gemeente is nie, wou graag deel raak. Ons het bere van so ver as die Oos-Kaap ontvang. Mans en vrouens, oud en jonk het gebrei.”
Die kerk het die basiese patroon en grootte van die beertjies gegee en almal was self verantwoordelik vir die brei, opstop en mooimaak van hul beertjie. Met die oog oorspronklik op so om en by 100 beertjies was Carien en haar span uit die veld geslaan toe hulle besef dat hulle 515 beertjies ontvang het.
“Ons het nie woorde gehad nie, ons was totaal en al oorweldig en emosioneel, geseënd en baie dankbaar. Ons het nooit gedink dat die projek so inspirerend en groot sou word nie.”
Baie van hul bere is aan die kinderbediening se kinders geskenk maar daar was ook meer as genoeg om skenkings aan organisasies te maak. Van hierdie organisasies help premature en verlate babas, verkragtings slagoffers en kinders wat in veilige bewaring geplaas is. Daar was ook beertjies aan gestremde kinders uitgedeel.

Carien het vertel dat hierdie projek nie net die kinderharte geraak het nie maar ook ‘n positiewe impak op die mense wat die beertjies gemaak het, gehad.
“Almal wou dadelik weet wat ons volgende gaan aanpak. Ons het sommer dadelik weer ‘n nuwe projek begin waar ons kombersies brei, die plan is om grotendeels na bejaardes hiermee uit te reik. As iemand dalk hierby betrokke sou wou raak, kan hulle ons kontak.”
• Navrae: Kontak NG Suiderlig Gemeente by 011 660 8038.