Local newsSchools

Kennies doen die Tuinroete tekkie-toer vir liefdadigheid

Laerskool Kenmare se leerders het vir vyf dae die Tuinroete gestap om vir 'n dowe dogter geld in te samel.

Die omgeeharte van leerders by Laerskool Kenmare ken geen perke nie en eers was dit drieë en doele vir drome en nou het hulle hul tekkies laat brand vir liefdadigheid.

Die skool het tydens hul deelname aan die onlangse Grey College Super Series ‘Drieë vir Drome’ gedruk. Die droom wat hulle probeer bewaarheid is die van Jay-Bee Farmer, ‘n 14-jarige seun van Bloemfontein. In 2021 het Farmer se familiekar onklaar geraak langs die hoofweg waar ‘n ander bestuurder van agter af in hulle vasgery het. Jay-Bee, wat agter gesit het, het ernstige beserings opgedoen en as gevolg hiervan, is hy ‘n kwadrupleeg. Die geld het dan gegaan om Jay-Bee te help met ‘n gespesialiseerde rekenaar.

Maar die projek het nie daar gestop nie en is hierdie uitreikingsprojek na die volgende fase geneem toe hulle ‘n Doele vir Drome-projek geloods het. Net soos met die drieë word elke hokkie- asook netbaldoel geborg deur die skool se ouers en die Wes-Rand gemeenskap. Die geld wat ingesamel word gaan om Chermelle Maasdorp, wat doof is, se kogleêre inplanting te befonds. Die operasie wat na beraming sowat R400 000 gaan kos sal ‘n groot verskil in haar lewe maak.

Behalwe vir doele en drieë het ‘n groep leerders ook die afgelope skoolvakansie die Oyster-Catcher-staproete in Mosselbaai gaan aandurf tydens hulle Tuinroete Tekkietoer. Die toer was nie net oor fondseinsameling nie; die leerders het ook aan verskeie aktiwiteite deelgeneem en meer van die area geleer.

Hulle het onder andere aarbeie gepluk, uitkykpunte besoek, op die strand baljaar en oornag in verskeie gastehuise wat nog te noem van ‘n vyf-dag staptoer voltooi.

Oomblikke wat vir leerders uitgestaan het was die hele ervaring en die feit dat hulle ‘n verskil in iemand se lewe kon maak. Hulle was mal oor die strand en natuurlewe en het die perdeplaas se besoek baie geniet. Nuwe vriendskappe was ook gebou.

Met die vertek van hul staproete het hulle sowat R26 000 vir Chermelle ingesamel maar nadat hulle teruggekeer het is daar byna R70 000 vir die jong meisie bymekaargemaak.

Laerskool Hartenbos se hoofseun en dogter asook een van hul onderwysers het die roete saam met Kenmare voltooi en ook beloof om geld vir Chermelle in te samel. Die span het ook ‘n besoek van Mosselbaaie se burgemeester, Dirk Kotze en ‘n radio onderhoud gehad voordat hulle weer moes terug vlieg huis toe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button