Mullies eerste span vat hul pa’s aan op die krieketveld
Laerskool Muldersdrif se eerste krieketspan het onlangs gewys dat hulle kan kers vashou teen die groot manne toe hulle die ouers aangevat het tydens ‘n pa-en-seun krieketdag.
Pappas en hul krieketspeler seuns van Laerskool Muldersdrif het mekaar onlangs aangevat op die veld tydens die skool se pa-en-seun krieketdag.
Vroeër die jaar het die leerders en ouers ook teen mekaar te staan gekom op die netbal- en rugbyvelde, maar dié keer was dit die krieketveld. Die skool bied hierdie dae aan om fondse in te samel, maar om ook as ‘n familiedag vir die kinders en hul ouers te dien.
Daar was 13 spanne wat deelgeneem het met die SDC Retired Hackers wat as die wenners van die dag weggestap het deur met 20 lopies in die finaal te wen.
Nege van die spanne was opgemaak uit net pa’s, twee spanne het uit die skool se eerste span krieketseuns bestaan en dan was daar ‘n span met net onderwysers.
Die dag was nie net pret vir die spelers nie – verskeie stalletjies was ook beskikbaar. Ondersteuners kon spookasem koop, hul gesigte laat verf en hare kleur. Vir die jongklomp was daar selfs Gladiator springkastele om heeldag op te baljaar.
Volgende op die skool se kalender is hul pretdag wat op 9 November plaasvind wat ook ‘n dag vol jolyt vir die hele familie is.
Die skool wou graag vir elke ouer en leerder dankie sê vir hul ondersteuning en dat hulle bygedrae het tot die dag se sukses.