Antonie kan weer asem haal danksy Kersvader, oftewel Ecomed
Kersfees kom vroeg vir Antonie.
Die News het onlangs verslag gelewer oor Antonie Müller van Krugersdorp-Wes wat gereeld sukkel om asem te haal.
Vir die 72-jarige is iets eenvoudig soos om die vloer te mop ‘n daaglikse struikel omdat hy vinnig uitasem raak, wat nog te noem van vertrek tot vertrek loop. Sy wens was toe dat iemand daar buite tot sy redding moet kom.
Met Kersfees om die draai is daar altyd hoop en gelukkig vir Antonie het Kersvader, in die vorm van Ecomed Medical, vir hom ‘n suurstofmasjien gebring.
Ecomed se kantoorbestuurder Elmarie Visagie het gesê een van hul personeellede, Landie van Staden, het die berig in die News gesien en dit het haar hart so aangeraak dat sy die berig aangestuur en gevra het of hulle kan help.
• Lees die oorspronklike artikel hier: Antonie uitasem en kort die publiek se hulp
“Ek en ons algemene bestuurder Sonja Nel het dit toe bespreek en dadelik besluit dat ons graag wil help,” het Elmarie gesê.
Ecomed se tuishelper en adviseur Roelof Nel het toe die suurstofmasjien by Antonie gaan aflewer en vir hom mooi verduidelik hoe dit werk.
“Die masjien is ‘n leen eenheid, wat beteken dat dit is nogsteeds die eiendom van Ecomed, maar dat Antonie die masjien kan gebruik vir so lank hy dit benodig.”
Volgens Elmarie kos dit R1 150 per maand vir die suurstofmasjien op ‘n huur opsie.
Gevra hoekom hulle besluit het om te help, het Elmarie bygevoeg, “Ecomed is baie betrokke by liefdadigheid en ons bestuurshoof en eienaar Greg de Freitas glo daaraan om terug te gee, veral om mense te help wat dit nie kan bekostig nie.”
Ecomed Medical in 1997 gestig en het ‘n belangrike verskaffer aan die hospitaal-, voorhospitaal- en tuisversorgingsmarkte geword. Hul hoofkwartier is in Krugersdorp en hulle het 17 takke landswyd met ‘n personeelkompliment van meer as 230 werknemers. Behalwe slaapapnee toestelle soos Continuous Positive Airway Pressure en suurstof, bied hulle huur opsies vir polsoksimeters, mobiele suigeenhede, suurstofsilinders en konsentreerders. Ecomed is ‘n eksklusiewe verskaffer van slaapapnee en suurstof-produkte vir verskeie mediese fondse in Suid-Afrika.