Local newsSchools

Bastion se hoof tree af na agt jaar

Na 42 jaar in die onderwys tree Gert Koekemoer af met groot hoop vir die volgende fase van sy lewe.

Gert Koekemoer, die hoof van Hoërskool Bastion, neem afskeid van die skool waar hy vir agt jaar aan die stuur was.

“Ek groet ons geliefde Buffelspan met ‘n traan in die oog, maar ook met ‘n lied in die hart. Nadat ek sedert 2015 die voorreg gehad het om die hoof van Hoëskool Bastion te wees, sluit ek my loopbaan op 31 Desember 2023 op die Buffelplaas af. Ek en my vrou, Lynette, gaan nou op pensioen,” het Gert gesê.

Gert Koekemoer tree na agt jaar as hoof van Hoërskool Bastion af. Foto: Verskaf.

Hy het vertel in die begin was die uitdagings nogal groot met slegs 616 leerders, ervare personeel wat afgetree het, top personeellede wat ander poste aanvaar het en finansiële struikelblokke. Ten spyte van hierdie uitdagings kon hulle egter daarin slaag om die skool weer tot sy voormalige eer te herstel met die behulp van die skoolbestuurspan, toegewyde personeel en die ondersteuning van die beheerliggame – alles tot voordeel van die leerders van die skool.

“Op akademiese vlak is ons opreg trots op die afgelope jare se gereelde 100% matriekslaagsyfers, maar veral aan die einde van 2022 toe ons ‘n 100% slaagsyfer in ‘n ongeëwenaarde 21 vakke behaal het, asook ‘n algehele 100% slaagsyfer. Die beste prestasie van enige hoërskool in die groter Wesrand. Die afgelope twee jaar was ons werklik geseën met uitsondelike prestasies op sport- en kultuurgebiede, danksy uitstekende afrigting en toegewyde leerders,” het Gert bygevoeg.

Hy het ook genoem ‘n ander hoogtepunt is hulle ‘Twinning’ vennootskap met Madiba Secondary School in Kagiso waar die skool en gemeenskap onder die vaandel van MadiBas betrokke geraak het met die doel om standaarde te verbeter en die leerders en personeel op te hef.

Gert en Lynette Koekemoer. Foto: Verskaf.

Hy het aangegaan om te sê volgende beplan hy en sy vrou om aan te beweeg na hulle rustyd. Hulle beplan om deur die land te reis met hulle woonwa en hulle drome te verwesenlik en tyd aan hulle stokperdjies te spandeer. Hy het genoem na hy sy verdere studies voltooi het, wil hy homself met nuwe uitdagings besig hou.

“Alle eer aan ons Skepper vir die geleenthede en seëninge om my roeping en passie die afgelope 42 jaar te kon uitleef en af te sluit op die Buffelplaas. Dit was ‘n absolute voorreg en ek is opreg dankbaar vir goeie gesondheid, krag, geleenthede, ondersteuning en die talente om deur onderwys en opvoeding vir ons leerders hoop te gee vir die toekoms,” het Gert gesê.

Hy het voortgegaan om sy waardering vir sy vrou uit te spreek ‘wat my elke dag bygestaan en ondersteun het terwyl ons baie uitdagings die hoof moes bied’ en sy kinders en kleinkinders wat hom ondersteun en trots gemaak het. Verder het hy die bestuur, personeel en ouers van die skool bedank vir die vele positiewe ervarings. Hy het ook die waarnemende hoof vir die eerste kwartaal sterke toegewens saam met die hele skool vir 2024 en die toekoms.

Hy het afgesluit, “Nogmaals dankie – mag Bastion die baken van hoop bly vir ons gemeenskap. Totsiens!”

 
Back to top button