Die gemeenskap het verlede week saamgetrek en ‘n massa-skoonmaakveldtog geloots in Vierdestraat.
Op Vrydagaand, 12 April het ongeveer 110 lede van AfriForum, die brandweerdiens, Friends of Emergency Services, die Sektor 3 GPF en Mogale se Publieke Veiligheid bymekaargekom met die doel om ‘n veiliger en skoner omgewing te skep.
Die wat betrokke was het die gedeelte van Vierdestraat tussen Victoria- en Kingdonstrate (asook die aangrensende hoeke) met chemikalieë ontsmet, daarna met besems geskrop en toe met water afgespuit.
Volgens Mark Trump, raadslid en organiseerder van die veldtog, vind hierdie so twee tot drie keer per jaar plaas.
“Die idee is juis om publieke belang te skep en higiëne te bevorder. Ons dank die gemeenskap en hul bydrae en dat die werk voluit gedoen word,” het Trump gesê.
Hy het bygevoeg die skoonmakers het baie menslike afval verwyder en daar was selfs vier gebruikte naalde, wat vermoedelik deur dwelmverslaafdes gebruik is.
Hy voeg by dat Bonanza SPAR in Vierdestraat selfs koeldrank vir almal geskenk het. Die veldtog het om en by twee tot drie uur geduur.