Local news

Wat beteken demokrasie vir ons inwoners?

Die allerdaagse man en vrou in die gemeenskap sê hul sê oor wat demokrasie vir hul beteken.

Die Krugersdorp News het onlangs die strate ingevaar en lede van die gemeenskap gevra wat demokrasie vir hulle beteken.

Hierdie is wat die publiek te sê gehad het …

“Van ‘n regsperspektief af, is demokrasie veronderstel om briljant te wees. Hoe meer partye in die parlement is, hoe groter is die kans dat almal se stemme gehoor kan word, waar mense die konsep van meerderheidstem verkeerd verstaan. Al is daar twee sitplekke van jou stem in die parlement, is dit waar ander jou opinie kan hoor. ‘n Maklike manier om jou opinie in die parlement te kry, deur jou stem, is om na die partye se manifes te kyk, waar jou waardes kan oorvleuel met die party sin. Dit is baie meer prakties vir die allerdaagse mens. Die grootste probleem wat ek met ons demokrasie het, is dat mense dit nie verstaan nie, waar mense meer ingelig moet word oor dit,” sê Hilde Eksteen, ‘n prokureur in Krugersdorp.

Prof Richard Meissner, ‘n voormalige inwoner van Krugersdorp.

“Vir my beteken demokrasie nie net die vrye regte wat ek ervaar en kan uitleef nie. Regte soos vryheid van spraak en assosiasie is vir my belangrik, veral in my werks opset. As ’n akademikus en politieke wetenskaplike moet ek die versekering hê dat ek navorsing op enige politieke vraagstuk en dit kan opteken in watse vorm ook al [koerant opinie stuk or wetenskaplike joernaal artikel] sonder dat ek gesensor word. Die vryheid van assosiasie is ook belangrik omdat ek sosiale wetenskappe navorsing doen en baie met mense in aanraking kom. In die verband moet ek dus nie belemer word nie. Ek besef ook dat met demokratiese regte kom verantwoordelikhede. Die Grondwet bevat baie regte en elkeen van daardie regte dra verantwoordelikheid. As navorser moet ek myself kan uitdruk sonder sensuur. Maar ek moet my eers vergewis van die feite en nie doel bewus fopnuus versprei of navorsingsresultate manipuleer om die waarheid te verdraai nie. Hierdie is ’n groot verantwoordelikheid wat met vryheid van navorsing, spraak, en assosiasie saam hang,” sê professor van politieke wetenskappe, Richard Meissner.

Eveline Swartz, ‘n lewenslange inwoner van Krugersdorp.

“Demokrasie beteken vir my dat jy die keuse het om te kies vir verbetering. Daardie keuse moet die beste vir die kinders wees en dat die regering goeie diensvoorskaffing vir die mense moet bied. Ek wens ons kan verbetering kry, en dat ons nuwe demokrasie kan verbeter. Ek bid vir ons land, want die mense kry swaar,” sê Eveline Swartz.

Steven Magona.

“Vir my beteken demokrasie gelykheid. Dit is goed vir die mense, en ek is bly ons het dit, en almal het hierdie voorreg,” het Steven Magona bygevoeg.

Marshelle Visser, ‘n plaaslike LLB student.

“Demokrasie beteken vir my dat almal se stem ewe veel tel. Elke persoon het die reg om te stem vir wie hulle dink die beste sal regeer en elke persoon gee nie om van die ras of kleur nie, en word gelyk behandel. Byvoorbeeld in ons land pas die konsep van regstellende aksie nie meer onder die ideologie van demokrasie nie, omdat daar ‘n sekere kategorie mense is wat onregverdig voorgetrek word. Demokrasie kan dus nie 100% bereik word nie, omdat almal nie gelyk behandel word nie,” het Marshelle Visser gesê.

 
Back to top button