Meer as net musiek vir Boltonia se Lindie
Plaaslike musikant van Boltonia spog met haar liedjie, Love.
Plaaslike musikant Lindie Roos het vroeër vanjaar die Melomaan Liedjie Skrywer van die Jaar 2024 toekenning ontvang vir haar lied, Love.
Volgens Lindie, het sy ook onlangs Love saam met Anton Fitchat opgeneem, wat sy alreeds in die Covid-tydperk geskryf het.
“Ek het later besef dat dit nie ek was wat die liedjie geskryf het nie, maar eerder die Heilige Gees. Ek het self deur ‘n baie moeilike tyd gegaan en ons almal hit rock bottom een of ander stadium in ons lewens, maak nie saak of jy ‘n sterk Christen of ‘n ongelowige persoon is nie. Maar, ons elkeen se rock bottom is heeltemal anders.
“Dit is in hierdie tye wat jy eintlik besef dat God waarlik alomteenwoordig is en dat God die bron van liefde is en dis hierdie belangrike boodskap wat ek graag met die hele wêreld wil deel wat soms donker, eensaam en onregverdig is. Jesus Christus is die eerbare en waarlik toonbeeld van liefde en opregtheid en niemand het nog ooit rock bottom bereik of ervaar soos Jesus, toe Hy aan die Kruis vir ons sondes gesterf het nie,” het Lindie bygevoeg.
Volgens haar musiekvervaardiger Ferdi Skead, gaan die liedjie oor baie meer as wat mense dink.
“Dit gaan nie net oor die musiekmark nie. Die liedjie raak baie meer mense as net dit,” het Ferdi bygevoeg.
“Ek is net ‘n liedjieskrywer en nie ‘n sanger nie, maar ek moes die liedjie self opneem, sodat hierdie belangrike boodskap al die mense kan bereik wat dit nodig het. Dis seker ook die rede waarom die liedjie in Engels geskryf is, sodat dit mense reg oor die wêreld kan bereik en aangryp,” het Lindie afgesluit.
