KYK: Gideon se liedjie oor tant Tillie beloof om jou te laat skaterlag
Plaaslike musikant, Gideon Hunter, vertel die gemeenskap van sy splinternuwe liedjie, met 'n komiese toon.
Na sy eerste twee Afrikaanse enkelsnit, Die hart van ‘n Man (2019) en Koningin van my hart (2024), het Gideon Hunter besluit om sy nuutste enkelsnit, Tant Tillie se Woer-Woer, met ‘n komiese aanslag te skryf.
Gideon sê dat hy sedert 2012 in die musiekbedryf is, en dat hy sy derde liedjie self geskryf en gekomponeer het en dat die teikenmark spesifiek mense met ‘n goeie sin vir humor is.
“Dit vertel ‘n komiese storie oor Tannie Tillie wat in ‘n klein dorpie bly. Hierdie tannie is baie lief vir stories aandra en sy sit heeldag en kyk na almal se doen en late, terwyl sy met ‘n woer-woer speel. Sy versprei stories oor almal, totdat sy eendag ’n storie oor ’n ander tannie versprei, en dié storie bereik die verkeerde ore,” verduidelik Gideon.
Hy voeg by dat hierdie enkelsnit die innerlike storieverteller en komediant in sy persoonlikheid na vore bring, terwyl hy steeds sy talent as sanger ten toon stel.
“Die musiek in hierdie liedjie bring moderne elektroniese klanke en meer tradisionele boeremusiek bymekaar, wat dit dan vir luisteraars van alle ouderdomme lekker maak om na te luister en te geniet. Die doel is om Afrikaanse musiekliefhebbers te laat skaterlag en terselfdertyd ook om die voete te laat jeuk vir ’n lekker langarm sokkie op die dansvloer,” het hy gesê.
Deur sy lewe het Gideon nog altyd ‘n liefde gehad vir die Afrikaanse storievertellers in die musiekbedryf wat Worsie Visser, Francois Hayes, Zak van Niekerk en Thys die Bosveldklong insluit, daarom is hierdie lied een wat hom na aan die hart lê en hy beplan ook om meer komiese musiek vry te stel.
Tant Tillie se Woer-Woer is op alle digitale platforms vrygestel, insluitend Spotify, Apple Music en YouTube.
