Izanne (13) inspireer met Kersprojek vir minderbevoorregtes kinders
’n Graad sewe dogter het dit haar missie gemaak om geskenke vir minderbevoorregte kinders hierdie Kersfees in te samel en toe te draai.
Kersfees is ‘n tyd van gee en omgee. Dit is duidelik nadat een van Noordheuwel se jong inwoners, die 13-jarige Izanne Reyneke, onlangs geskenke vir minderbevoorregtes ingesamel en toegedraai het.
Die graad sewe-leerder van Laerskool Dr Havinga (wat volgende jaar haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Florida begin) is sedert 2023 saam met haar ma, Lizaan, betrokke by liefdadigheidsprojekte.
Izanne het verlief geraak op uitreik na ander toe sy 13 was.
“Ek sien die lewe in ‘n heeltemal ander lig en dit het my laat groei as ‘n jong dame. Ek waardeer alles in die lewe, want ek weet hoe moeilik dit vir ander is,” het sy gesê.
“Ek wil ‘n verskil maak, nie net hier in my tuisdorp nie, maar in die wêreld. Ek het die idee vir ‘n Kersprojek gekry toe ek ons geskenke onder die Kersboom sien,” het sy verduidelik.
Sy het bygevoeg dat haar liefde vir mense groot is en sy fokus veral met goeie rede baie op kinders. Die kinders wie se ouers nie ‘n geskenk vir Kersfees kan bekostig nie, het haar baie gepla.
“Ek voel dit is nie hulle skuld om in die situasie te wees waarin hulle is nie. Ek het dit dus in my eie hande geneem om vir donasies te vra en dit geadverteer dat ons geskenkies sal benodig om ‘n verskil in ander kinders se lewens te maak. Ek het twee kinderhuise [911 Oord in Newlands en Saint Louis Haven] se lysies ontvang wat ek heeltemal voltooi het. Ek is trots hierop want nou kan elkeen iets oop maak op Kersdag,” het sy vertel.
“Sodra dit toegedraai is sal ek die geskenke by die twee verskillende plekke gaan aflaai. Daar is ‘n totaal van 60 kinders en ek weet dit sal hul Kersfees verander. Ek wil meer mense en kinders my ouderdom inspireer om ook ‘n verskil te maak. Saam kan ons ‘n groter verskil maak,” het Izanne aangespoor.