Local news

KYK: Mindalore se Dwayne stel jongste lied vry

Na die sukses van Jaloers, bring Dwayne Griffin van Mindalore weer emosie en inspirasie met sy jongste lied oor liefde as genesing teen die lewe se donker tye.

Na die suksesvolle vrystelling van sy enkelsnit Jaloers, laat die Mindalore-kunstenaar Dwayne Griffin weereens harte klop met sy jongste treffer, Teenmiddel, wat op 20 Junie uitgereik is.

Die lied, geskryf deur gevestigde liedskrywer Emil Paul, spreek die universele ervaring van uitdagings en donker tye aan en herinner luisteraars daaraan dat liefde en eenheid die kragtigste teenmiddel vir enige struikelblok is.

Vir Dwayne was daar dadelik iets besonders aan die lied. Die eerlike, rou lirieke het hom aangegryp omdat dit op ‘n diepgaande manier die gevoel van afhanklikheid en geborgenheid in ’n verhouding beskryf.

Die boodskap van hoop en verligting – dat iemand jou veilig kan laat voel te midde van storms – het hom diep geraak.

“Ek het gevoel hierdie storie móés vertel word, want ons almal soek daardie teenmiddel wat die lewe beter maak,” sê hy.

“Die lied vertel die verhaal van iemand wat, ten spyte van die lewe se droogtes, berge en dalende paaie, altyd ‘n toevlug vind by daardie spesiale persoon – die een wat riviere na jou waterval laat vloei, wat jou storms stilmaak en jou deur die donker help dra, al is dit ‘n geliefde of net ‘n vriend of vriendin – iemand wat altyd daar is vir jou,” het hy aan Krugersdorp News vertel.

Dwayne sê verder die musiekvideo is opgeneem by die pragtige Debengini-watervalle in Tzaneen en dien as die perfekte visuele weergawe van die lied se tema.

“Die natuur is ’n simbool van emosie, en die watervalle verteenwoordig genesing en krag. Die vloei van die water teen die berge beklemtoon die temas van aanhou, oorwin en uiteindelike oorwinning deur liefde,” het hy afgesluit.

Teenmiddel is nou beskikbaar op alle gewilde musiekplatforms, insluitend Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer en Amazon Music.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button