VLU Fuchsia-tak bring kreatiwiteit en omgee saam by winterskool
Die Vrouelandbou-unie se Fuchsia-tak het oud en jonk bymekaargebring vir hul jaarlikse fondsinsamelingsgeleentheid, en daar was alles van papierkrale en tie-dye tot heerlike peuselhappies.
Pret en kreatiwiteit loop hand aan hand saam met die Vrouelandbou-unie (VLU) se Fuchsia-tak.
Die VLU het onlangs hande gevat met die gemeenskap en by die AGS Krugersdorp Sentraal se kerksaal in die middedorp bymekaargekom vir hul opwindende winterskool.

Takvoorsitter Maryna van der Merwe het verduidelik dat hulle elke jaar ’n winterskool aanbied.
“Verskillende ouderdomme, vanaf drie tot 18 jaar, asook volwassenes het deelgeneem aan aktiwiteite soos papierkrale maak, T-hemde knoop, en bak en brou.”

Meer as 50 mense het kom saamkuier, en Maryna vertel dat daar ook heerlike kos en verversings was.

“Dit was ’n fondsinsameling vir die tak. Die fondse word gebruik vir ons omgeeprojekte. Ons tak se leuse is ‘Kreatief met omgeehande’, omdat ons fokus op handwerk wat ’n verskil in iemand se lewe kan maak,” het Maryna afgesluit.
