Local news

Boeremeisie-wees is my krag, sê Clarice (22)

Clarice de Bruyn vier Vrouemaand met son op haar gesig, wind in haar hare en die vryheid van ’n boeremeisie-lewe wat haar siel rus gee.

Clarice de Bruyn (22) vier Vrouemaand deur haar liefde vir die plaaslewe en plattelandse kultuur uit te leef.

Die voormalige Hoërskool Noordheuwel-leerder, wat in 2021 matrikuleer het, se gesin boer op ‘n plaas naby Vaalwater met wild, avokadopere en verskillende neute. Clarise het ook het ‘n groot passie om te jag.

Sy is ‘n plaasmeisie in hart en siel – sy is lief vir eenvoud, stilte en die tipe vryheid wat jy net op ’n plaas kan ervaar. Dis waar sy asemhaal, waar sy haarself kan wees sonder filters of verwagtinge.

“Ek hoef nie te dink aan hoe ek lyk of wat ander van my dink nie. Ek kan kaalvoet wees, met modder tussen my tone en damwater in my hare ná ’n lang dag, en dit voel soos vryheid. Dis daardie rou, eerlike leefwyse wat my siel rus gee.”

Sy vertel sy is gemaklik in haar eie vel, avontuurlustig en vry van pretensie. Sy hou van mense, maar floreer ook in haar eie ruimte, met son op haar gesig en wind deur haar hare. Sy glo sy is sag, sterk en diep gegrond – net soos die aarde onder haar voete.

Maar hoe balanseer sy die stadslewe met haar liefde die plaas?

“Met een voet in die stad en ‘n ander in die veld,” sê sy.

Clarice de Bruyn op ‘n jagtog. Foto ingestuur.

“In die stad bou ek aan my toekoms, maar dit is op die plaas waar ek werklik weer myself word. Ek maak tyd om terug te gaan, om weer te voel en nie net te funksioneer nie.”

Vir Clarice is dit bemagtigend om ‘n plaasmeisie te wees – iets wat sy glo betekenisvol is vir alle vroue.

“Daar is iets ongelooflik kragtig in om jouself heeltemal te kan uitleef – sonder grimering, sonder oordeel, net jy en die aarde. Dit herinner my daaraan dat my waarde nie lê in hoe ek lyk of wat ek bereik nie, maar in wie ek is. Die plaas gee my die ruimte om my eie krag te ontdek – op my eie manier,” het sy bygevoeg.

“Dit bring my terug na my kern. Ek voel vroulik, vry en volledig. Die eenvoud van plaaslewe herinner my daaraan dat ek nie iemand anders hoef te wees nie – ek kan sag wees en steeds sterk, stil wees, maar ook ‘n impak los.”

Sy glo Vrouedag – en maand is daar om vroue se uniekheid te vier.
“Dis nie daar om te wys dat ons dieselfde as mens is nie. Ons krag lê in ons verskille, in ons empatie, uithouvermoë en intuïsie. Ons hoef nie soos mans te wees om waardevol te wees nie – ons is waardevol, net soos ons is. Dís wat vrouwees so mooi maak,” sluit sy af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button