‘Toppieklub’ deel 150 warm bakkies liefde uit
Die sogenaamde 'Toppieklub' het 150 bakkies kerrie en rys voorberei vir inwoners van verskeie tehuise – alles in die gees van gemeenskapsliefdadigheid.
Meeste minderbevoorregte mense sal saamstem dat ’n warm bord kos in die winter ’n heerlike bederf is.
Die Krugersdorp Klub, ook bekend as die Toppieklub, het presies dit vir ’n paar bejaarde lede van die gemeenskap uit verskeie tehuise gedoen. Hulle het talle bejaardes van die Van Riebeek, Jack Cotton, Pioneer en President tehuise op 8 Augustus met ’n heerlike maaltyd verras.

Klubvoorsitter Riaan Steenkamp sê hulle het kerrie en rys aan die bejaardes voorsien en doen soortgelyke uitreikingsprojekte deur die jaar.

Na 26kg maalvleis en baie groente het hulle 150 bakkies vir die bejaardes en hul familielede voorberei.

“Die lede van die klub en plaaslike besigheidsmanne het saamgewerk om dit moontlik te maak vir die gemeenskap, met die doel van liefdadigheid,” het hy afgesluit.
