Smullekker potjies bring Silverfields saam
Van lam tot wors, die Silverfields-gemeenskap het gesmul aan unieke geure, maar dit was die rooibokpot wat uiteindelik gewys het wie's baas.
Heerlike potjiekos en lekker musiek het die Silverfields-gemeenskap saamgesnoer tydens Heroes Pub and Grill se potjiekoskompetisie.
Volgens die kroeg se eienaar, Lourens Gouws, het sowat 70 mense op 30 Augustus opgedaag om te sien wie die beste pot kan maak.
“Daar was ses spanne wat deelgeneem het, en ons het dit aangebied om lente te vier. Die inskrywingsgeld gaan aan ’n seun om ’n rugbytoer mee te maak,” het Lourens gesê.

Hy het bygevoeg dat hulle die kompetisie elke vier maande aanbied. Vir hom was die hoogtepunt dié keer beslis die proe van al die potte en die aankondiging van die wenspan.
Daar was ’n verskeidenheid potjies, insluitend hoender, wildsvleis, lam, bees en selfs ’n worspot.

Die Krugersdorp News was ook daar en het as beoordelaar opgetree. Die spanne is volgens drie kategorieë beoordeel: smaak, tekstuur en voorkoms. Isak van Molendorff en sy span se rooibokpotjie is as wenner aangewys.
“Ek wil dankie sê aan elke persoon wat die dag bygewoon het. Ons waardeer die moeite wat in al die potte ingegaan het,” het Lourens afgesluit.
