Local news

Gemeenskap treur na beste vriende in motorongeluk sterf

Familie en vriende is verpletter oor die dood van oud-Monumentaar Hilton Meyer en sy beste vriend. Familie en vriende onthou Hilton se aansteeklike energie en drome vir die toekoms.

Die lewens van twee Krugersdorp-gesinne het op 6 September onherroeplik verander toe hul geliefde seuns saam in ‘n motorongeluk gesterf het.

Hilton Meyer (23) en sy beste vriend Divann Senekal (22) is in ‘n botsing met ‘n ander voertuig op Hendrik Potgieterweg oorlede.

Die Krugersdorp News het met Hilton se ouers, Pieter en Carmen Meyer, gesels oor hul seun en sy nalatenskap.

Hulle is stukkend en beskryf die vriendskap van die oud-Monumentare as “kettie en klip”, onafskeidbaar.

Hilton is in Bethlehem gebore en het van daar na Umhlanga verhuis waar hy gebly het tot hy in graad een was. Hy en sy gesin het later na die Wes-Rand verhuis, waar hy Laerskool Roodekrans en toe Hoërskool Monument bygewoon het.

“Hilton was ‘n wild-child, grapgat, charmer, die go-to-guy en vertroueling. En tog – hy het altyd die vonk gehad – daai glimlag – daai energie. Niemand sal hom vergeet nie. Oral waar hy was, het hy ‘n indruk gelos – Namibië, Botswana, Noord-Kaap, Mozambique, Kaapstad… en natuurlik hier op die Wes-Rand,” het Pieter vertel.

Hilton het vir ‘n kontruksiemaatskappy gewerk. Pieter het bygevoeg dat dit sy droom was om dit na die hoogste te laat styg en hy op pad was om aandeelhouer te word.

Hy en sy pa het saam gaan jag, bromponie gery en gekuier, maar Pieter sê nou dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.

Pieter is dankbaar vir die voorreg om Hilton sy seun te kon noem.

“My seun, my maat … jy het ‘n blink toekoms gehad, maar in jou 23 jaar het jy reeds ‘n impak gemaak wat niemand kan betwyfel nie. Dit breek my hart dat jy dit nie kan uitleef nie.”

Hilton laat sy pa, ma en twee broers agter. Die News sal ook later vandag (12 September) ‘n huldeblyk oor Divann publiseer.

‘n Ondersoek is aanhangig gemaak weens die betrokkenheid van nog ‘n voertuig in die ongeluk. Die News sal meer inligting hieroor bekend maak soos dit beskikbaar word.

Hilton se gedenkdiens sal plaasvind vanuit die NG Roodekraans-gemeente op 16 September om 11:00.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button