VLU Krugersdorp fokus op bejaardes met jaarprojek
Die Vrouelandbou-unie se Krugersdorp-tak het vergader om hul jaarplanne te bespreek en papierkrale te maak, alles in lyn met hul tema.
Die Vrouelandbou-unie (VLU) het onlangs hul maandvergadering aangebied, waar lede aan aktiwiteite deelgeneem en die unie se planne vir die jaar bespreek het.
Op 18 September het die Krugersdorp-tak se 36 lede by die Krugersdorp Rolbalklub bymekaargekom.
Voorsitter Henriette du Toit het verduidelik dat hulle elke maand probeer om afwisselende aktiwiteite aan te bied, met ’n kombinasie van praktiese sessies en gassprekers.

Die tema vir die jaar is “Hartmense”, met spesiale fokus op bejaardes.
Volgens Henriette is daar tydens die vergadering nie net oor die jaar se planne gesels nie, maar is daar ook papierkrale gemaak.

Sy vertel dat hulle tydens die winterprojek pakkies aan drie kleiner versorgingseenhede vir bejaardes geskenk het. Die geskenkpakkies het handgemaakte musse, serpe en slaapkouse bevat.
“Ons voel dat die kleiner en minder bekende versorgingseenhede nie genoeg ondersteuning kry nie, daarom kies ons hulle. Ons is ook opgewonde om iets vir hulle te beplan vir die Kersseisoen,” het sy afgesluit.
