Oud Norie-onnie se moedige geveg, en jy kan help
Tayla Clunie (30) deel hoe sy met geloof, moed en ondersteuning die stryd teen borskanker aanpak – jou hulp kan ‘n verskil maak.
Voormalige Hoërskool Noordheuwel-onderwyser Tayla Clunie (30) se lewe het op 24 April skielik verander toe sy met kanker gediagnoseer is.
Volgens Tayla is sy kort ná haar 30ste verjaarsdag op 2 Maart met graad drie Ductal Carcinoma – ’n vorm van borskanker – gediagnoseer. Sy moes daarna verdere toetse ondergaan om te bepaal hoe ver die kanker gevorder het.
“Dit het my lewe meer verander as wat ek aanvanklik wou toelaat of erken. Ná my diagnose het ek elke beskikbare oomblik gebruik om met die mediese fonds te kommunikeer om uit te vind of hulle sal betaal. Al my energie en fokus was daarop,” sê Tayla.
Toe hulle uiteindelik hoor dat die medies nie gaan betaal nie, moes sy die werklikheid in die gesig staar en dit laat insink.
“Ek ag myself egter nie as ’n slagoffer nie. Hierdie slegte diagnose het oor my pad gekom, maar dit is nie my identiteit nie. Ja, dit is vreesaanjaend en dit het my tydelik van ’n sosiale lewe ontneem, maar dit het nie die mag om my lewe te oorheers nie. God was nog net goed vir my, en ek kies om daarop te fokus,” vertel sy.
Tayla het reeds drie tipes chemoterapie en ses sessies agter die rug. Sy sê die behandeling was baie suksesvol en dat die kanker nou slegs ’n derde van sy oorspronklike grootte is.
“Ek moet nou vir genetiese toetse gaan om te bevestig of ek ’n spesifieke mutasie het, en dit sal bepaal watter operasie ek moet kry,” voeg sy by.
Haar man het intussen ’n BackaBuddy-blad geskep om te help met die mediese kostes. Die blad verduidelik dat Tayla nog ’n lang pad vorentoe het, en dat hulle wag vir bevestiging of rekonstruktiewe chirurgie en/ of bestralingsterapie sal volg. Dit sal ’n bykomende spesialis vereis, wat nie goedkoop is nie. Hulle is ook bewus daarvan dat ’n narkotiseur se fooi buitensporig duur kan wees, en dat hospitaalverblyf en teaterkoste ook gedek moet word.
“Wanneer die operasie klaar is, is postoperatiewe sorg en herstelondersteuning tuis ’n moet. Fisioterapie is noodsaaklik vir pasiënte wat borsoperasies ondergaan, en kognitiewe en emosionele ondersteuning deur terapie bring ook ’n groot finansiële las – ver bo wat ons op ons eie kan dra,” sê Tayla.
Die Clunie-gesin staan dus voor ’n reuse finansiële uitdaging met die mediese uitgawes. Enigiemand wat ’n bydrae wil maak, kan dit doen deur die volgende skakel te klik: https://www.backabuddy.co.za/campaign/tayla-clunie-a-teachers-against-breast-cancer.
“Ek het hieruit geleer dat mense 99.9% van die tyd goeie intensies het. Hierdie is tot dusver die moeilikste ding wat ek nog moes doen, en ek het vinnig besef dat niemand dit regtig verstaan nie. Dit het my eensaam laat voel, maar ek het gou weer onthou dat God by my is. Dis net ek en God. Daarom is ’n konstante gesprek met Hom so belangrik. Al voel dit soms of jy maar net met jouself praat, is daar ’n God wat jou hoor, en Hy stuur mense oor jou pad om vir jou daardie bemoediging te gee wat jy nodig het. Ek het besef dat mense só gehoorsaam aan Hom is en dat hulle slegs wil help, al weet hulle nie altyd hoe nie,” het sy afgesluit.
