Ouma Bettie vier 90 jaar vol seëninge
Ouma Bettie Breedt vier haar 90ste verjaardag en kyk terug op ‘n lewe vol geloof, liefde en prestasies.
Ouma Bettie Breedt het onlangs ’n mylpaal bereik toe sy haar 90ste verjaardag gevier het.
“Die Here was goed vir my,” het sy gesê met trane in haar oë.
Bettie is op 4 Augustus 1935 gebore en sê sy is dankbaar vir ’n lewe vol seëninge.
Sy is gebore tydens ’n griep-epidemie, en haar ma is tragies oorlede terwyl sy geboorte gegee het. Bettie is toe grootgemaak deur ’n buurvrou wat self pas geboorte gegee het.
Volgens haar kleindogter, Marelise Koekemoer, het Bettie ’n boek geskryf oor haar lewensverhaal en het sy selfs die Covid-19-pandemie oorleef.

Sy het onlangs een van haar groot drome vervul deur Steve Hofmeyr persoonlik te ontmoet op haar 90ste verjaardag, een van baie prestasies in haar lewe.
“Die Breedt-familie bedank almal wat bygedra het om hierdie merkwaardige mylpaal ’n onvergeetlike dag te maak,” het Marelise gesê.
Bettie het Hoërskool Ventersdorp bygewoon, haar man ontmoet terwyl sy as verpleegster gewerk het, en het uiteindelik haar eie besigheid begin – Breedt Glas in Krugersdorp-Wes – wat vandag steeds oop is en deur die familie bestuur word.
In haar vrye tyd geniet sy kuns en handwerk.
Toe sy gevra is oor die geheim van haar lang lewe, het sy gesê:
“Dis net deur die genade van God.”
