Help Anje se droom om weer te beweeg
Na skielike verlamming veg 15-jarige rekordhouer Anje Bezuidenhout om haar beweeglikheid en drome te herwin.
‘n Talentvolle jong Norie, Anje Bezuidenhout (15), se lewe het skielik verander nadat sy die Gauteng o17-hoogspringrekord verbeter het.
Sy het die rekord met 1.74m gestel en was op pad na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe toe sy ‘n paar dae later verlam geraak het van haar heupe af.
Haar ma, Angelique Smit, het vertel dat dit op 7 Maart verlede jaar gebeur het en dat hulle onmiddellik vir Anje hospitaal toe moes jaag. Sy is op daardie stadium gediagnoseer met Guillain-Barré-sindroom, ’n siekte wat die senuweestelsel aantas. Sy het later met terapie begin in die hoop om haar atletiekloopbaan weer te hervat.
Na maande se terapie moes sy egter op 15 September vanjaar weer hospitaal toe gaan vir talle toetse.
“Ons is ingelig dat sy verkeerd gediagnoseer is. Sy is nou met ‘n spinale-koord-beroerte gediagnoseer,” het Smit vertel.
Anje benodig dringende gespesialiseerde behandeling, insluitend fisioterapie, biokenetiese behandeling, sielkundige sessies en gereelde doktersafsprake. Smit het bygevoeg dat dit haar kanse sal verbeter om beweging en onafhanklikheid terug te kry.
Hierdie behandeling bring egter groot mediese onkostes mee. Een van Anje se geliefde onderwysers het intussen ‘n BackaBuddy-blad vir haar gestig.
Smit het afgesluit dat die fonds sal help om Anje se nodige mediese behandeling en terapie te dek, sodat sy kan aanhou veg om haar drome te bereik.
